Valkeliga: Nigel ter ruste in ERU-begraafplaas

ERU se Colin Booysen (spanbestuurder), Derick Sampson (hoofafrigter) en Raymond Human (voorsitter) met die Merlinbeker wat die klub verlede jaar gewen het. (Foto: Sergio Sampson).

ERU se Colin Booysen (spanbestuurder), Derick Sampson (hoofafrigter) en Raymond Human (voorsitter) met die Merlinbeker wat die klub verlede jaar gewen het. (Foto: Sergio Sampson).

Die Begraafplaas noem die plaaslike ingesetenes Reigerpark se rugbyveld, en Saterdag was Nigel die jongste besoekende span wat daar ter ruste gelê is.

Die Merlinbekerhouer, East Rand United (ERU), het die kragmeting in die opstellende ronde van die Valke se Premierliga 59-13 gewen. Die rustydtelling was 24-6.

Colin Booysen, die wenspan se spanbestuurder, sê die afrigters is tevrede, maar lugtig dat `n oorgerustheid kan insluip.

“ERU hoop om voort te gaan om goeie rugby te speel, en streef daarna om vanjaar tussen die topses in die Peregrineliga te speel.”

Booysen sê die tuisspan het nege pragdrieë gedruk en Nigel een in `n wedstryd waarin ERU op al sy silinders gevuur het, en hulle het alle fassette oorheers.

“Die voorspelers het die grondslag gelê en goeie balle aan die gevaarlike agterspelers verseker, wat behoorlik baljaar en sewe van die drieë gedruk het.

“Toe ERU se kaptein, Fanie van Staden, in die derde minuut van die wedstryd bykans 50 m gehardloop het om die eerste drie te druk, was dit  duidelik dat `n lang middag op Nigel wag. Teen rustyd het ERU reeds die vier drieë vir `n bonuspunt gedruk.

“Dit was duidelik dat die Reigerparkers van plan was om die vorige Merlin-kampioen te begrawe – en hy het dit behoorlik gedoen deur nog vyf drieë in die tweede helfte te druk,” het Booysen aan Pale Toe! gesê.

Hy sê ERU se veelsydige agterspeler, Cameron Lentoor (hy het Saterdag linkervleuel gespeel), was uitstekend en het 29 punte aangeteken. Dit sluit drie drieë en sewe doelskoppe in. Hy was `n doring in Nigel se vlees met sy slim spel.

Raydall Walters (twee), Clayton Gindan, Morné Badenhorst, Van Staden en Reggie Kinana het die ander drieë gedruk.

Vir Nigel het Mandla Mosikidi `n drie gedruk. Adriaan Haasbroek het dit verdoel en met twee strafdoele geslaag.

ERU se tweede span het 43-18 (rustyd 17-8) en die o.21-span 88-0 (35-0) gewen.

Twee taai wegwedstryde teen die hardebaarde van die Valkeliga, Vereeniging (14 Mei) en Brakpan (21 Mei), wag nou op die span van Reigerpark.

Ferdi Swarts van Meyerton voor `n beweging teen Edenvale Panthers aan. (Foto: Riëtte Burger)

Ferdi Swarts van Meyerton voor `n beweging teen Edenvale Panthers aan. (Foto: Riëtte Burger)

♦ In die Kestrelliga het Edenvale Panthers op sy tuisveld vir Eurolux Knights United van Meyerton 31-12 geklop.

Anthony Lloyd, Meyerton se voorsitter, sê hy is teleurgesteld, “maar dis maar hoe rugby is”.

Hy sê dit was `n baie fisieke wedstryd waarin die Knights baie foute begaan het.

Arno Burger en Henk de Bruin het die verloorder se drieë geruk. Michael Bosman het een verdoel.

Ander uitslae –

Peregrine uitspeelliga

Eerste spanne

Springs 27, Vereeniging 23; NWU Vaal 40, Sasolburg 22; Benoni 24, Kemptonpark 18.

Tweede spanne

Sasolburg 33, NWU Vaal 7; Kemptonpark 24, Benoni 5.

O.21-spanne

Sasolburg 25, NWU Vaal 7.

Kestrelliga

Elsburg 13, Vanderbijlpark 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.