Valkeliga: nuweling laat ERU groot skrik

Die nuweling in die Valke-rugbyunie (VRU) se Peregrine-liga het East Rand United Saterdag groot laat skrik in hul kragmeting in Vanderbijlpark.

Die NWU Vaal het rustyd met 17-10 voorgeloop en die span van Reigerpark moes vinger trek om op die ou end met 41-20 te wen.

Colin Booysen, ERU se spanbestuurder, sê die afrigters was in hul noppies daarmee dat die span die eerste keer hierdie seisoen die hardlooprugby gespeel het wat eie aan hom is.

“Hy het ook weer sy kenmerkende veggees en bittereinderhouding in die tweede helfte getoon.

“ERU het voor rustyd slegs een drie gedruk. In die tweede helfte het hy 31 punte aangeteken, wat vyf drieë ingesluit het, terwyl NWU slegs drie punte (ʼn strafdoel) kon aanteken.”

Booysen sê die span van Reigerpark speel weer goeie rugby ná ʼn wankelrige begin hierdie seisoen.

“Die afrigterspan bly beskeie, en erken dat die seisoen nog lank is.”

Hy sê Saki Klaas (plaasvervanger-vaskopstut) het dadelik ʼn geweldige impak gemaak toe hy in die tweede helfte op die veld verskyn het, en is as die speler van die wedstryd aangewys.

“Sy skrumwerk was uitstekend en hy het die studente hoofbrekens met sy vreeslose plettervatte en kragtige lopies besorg. Hy is met twee pragdrieë beloon.”

Behalwe Klaas se tweetal en ʼn strafdrie het Clayton Gindan, Kholekile Bakumeni en Tiaan Ramat vir die wenspan gedruk.

Cameron Lentoor het vier verdoel en met ʼn strafdoel vir ʼn eie bydrae van 11 geslaag.

NWU Vaal se tweede span het met 33-24 gewen; en ERU o.21 het sy portuur met 61-0 verpletter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lukas ·

Net n regstelling nwu se 2de span se score teen eru 2 was 33- 22. Sal waardeer as julle dit kan regstel. Ons sal inskryf op julle blad on ons weergawes na elke wedstryd ook te gee. En net ander ding ons is n oop klub nie net n studente klub nie.

Janie Monsieur ·

Dagsê Lukas,
Dankie vir ou kommentaar en dankie dat jy ons aandag daarop gerig het. Ons wysig die berig soos die Valke se amptelike uitslagwerf die aandui, as 33-24. Ons verneem ook graag van julle en hou in gedagte dat julle ‘n oop klub is.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.