Valkeliga: skeidsregter ‘lak’ glo ‘driedrukker’

ERUembleem`n Skeidsregter wat as ‘t ware `n speler “gelak” het deur glo met `n oop doellyn voor hom in te hardloop, het `n Oos-Randse klub kwaai die josie in.

Colin Booysen, die spanbestuurder van East Rand United (ERU), laat weet onthuts dat die plaaslike rugbymense glo die blaser – en nie Boksburg nie – het die wedstryd gewen.

Boksburg het die wedstryd in die Top6 van die Valke se Peregrineliga 21-20 gewen nadat ERU in die 75ste minuut nog 20-16 voor was.

“ERU was op die aanval, en met `n oop doellyn voor hom was Sakkie Klaas, ERU se loskopstut, op pad om nog `n  drie te druk en sodoende die oorwinning te verseker.

“Die skeidsregter het egter voor Klaas ingehardloop en sodoende ERU van `n gewisse drie en oorwinning beroof.

“Hy het om verskoning gevra, maar hierdie optrede het ERU ‘begrawe’,” berig Booysen met verwysing na die Reigerpark-sportterein, wat plaaslik as “Die Begraafplaas” bekendstaan.

Volgens Booysen het die blaser op die koop toe ritse “onverklaarbare beslissings” gegee, wat ERU se sterk skrums en lynstane grootliks hul voordeel ontneem het.

Hy sê die span se voorry was ERU se beste spelers.

“Hulle het Boksburg behoorlik in die grond in geskrum.”

Benewens `n strafdrie het Dustin Losch vir ERU gedruk. Duane Brown het albei verdoel en met twee strafdoele geslaag.

ERU se tweede span het 22-5 gewen, en die o.21-span 45-26.

Die Reigerparkers se laaste wedstryd in die Top6 is op hul tuisveld teen die naasvoorloper, Springs.

Meyerton (grys) teen Delmas (roesbruin). (Foto: Anthony Lloyd)

Meyerton (grys) teen Delmas (roesbruin). (Foto: Anthony Lloyd)

Kestrelliga

In die Kestrelliga het Eurolux Meyerton Knights United vir Delmas in `n harde wedstryd op dié se tuisveld 47-21 geklop.

Anthony Lloyd, Meyerton se voorsitter, sê Coenraad Swanepoel (binnesenter) en Jessie Forberg (losskakel) was die sterre van die dag.

Swanepoel het twee drieë gedruk en Forberg het 17 punte met `n drie en ses doelskoppe behaal.

Meyerton se ander drieë is deur Shawn Prinsloo (regtervleuel), Ruan van Tonder (buitesenter), Awie Vermeulen (skrumskakel) en Gerhard van der Watt (haker) gedruk.

Meyerton is tans die naasvoorloper (45 punte) in die reeks en sy kragmeting Saterdag op die Meyerton-sportterrein teen die voorloper, Edenvale Panthers (52 punte), is `n eindstryd in die kleine.

Die tuisspan kan nie bekostig om te verloor nie en moet boonop `n bonuspunt verdien.

Lloyd sê teen hekgeld van R10 per volwassenne, R5 per kind en R10 per voertuig gaan Meyertonners – en ander – Saterdag ver soek om beter waarde vir hul vermaaklikheidsbegroting te kry.

Die wedstryd begin 15:30.

Ander uitslae

Peregrineliga-Top6

Eerste spanne

Brakpan 25, Springs 23.

Tweede spanne

Brakpan 38, Springs 12.

O.21-spanne

Springs 20, Brakpan 15.

Kestrelliga

Edenvale Panthers 36, Vanderbijlpark 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Ag kom nou man, so iets sal nooit aan die Oos Rand gebeur nie !

Frikfluitjie ·

Het julle feite gecheck? NEEE. Ek was daar en het nie dit gesien nie as julle moeite doen om bietjie te investigate sal julle wArheid weet. Regtig net bad loosers blameer ref. Hand in eie boesem asb mensies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.