Valkeliga: skok der skokke op ‘Begraafplaas’

Die “Begraafplaas” se mense spoor ERU aan.

Die “Begraafplaas” se mense spoor ERU aan.

Min van die goeie kwota skokuitslae landwyd in die afgelope naweek se klubrugby kan tred hou met wat Saterdag op Reigerpark se “Begraafplaas” gebeur het.

Die dorp se sportveld het juis die bynaam na aanleiding van die groot name wat daar tot `n val gebring is en na East Rand United (ERU) se sege van 23-22 oor Vereeniging (rustyd 13-3).

Die Reigerparkse span het verlede jaar die Merlinliga (tweede vlak) gewen en is `n nuweling in die Peregrineliga. Vereeniging was die naaswenner van die senior liga.

Die twee spanne het weliswaar in die opstelronde van die liga 16-16 gelykop gespeel, maar die algemene verwagting was dat Vereeniging in die weeromwedstryd met `n sterker aanslag sou kom.

Colin Booysen, die wenner se spanbestuurder, sê ERU het die wedstryd reeds Woensdagaand gewen toe die span in donkerte moes oefen omdat daar `n kragprobleem in Reigerpark was. In hierdie donkerte het Werner Pretorius, ERU se bedryfsbestuurder gesê: ”Nou lyk hierdie veld soos `n regte begraafplaas.  Vereeniging sal ons nooit hier klop nie – ons gaan hom begrawe.”

Booysen sê in ‘n week waarin Muhammad Ali dood is, dink hy onwillekeurig aan sy boksgeveg teen Joe Frazier in 1975 – die “Riller van Manila”. “Hierdie was die ‘Riller van Reigerpark’.”

Hy loof albei spanne vir die soort rugby wat hulle opgedis het.

“Die wedstryd was in elke opsig uitstekend. In só `n wedstryd is dit jammer dat daar `n verloorder moes wees. Albei spanne het goeie rugby gespeel. Daar is min kanse gebied – albei spanne het aanvalle van stapel laat loop en die verdediging was van die boonste rak.”

Hy glo egter ERU se fanatiese toeskouers met hul kwinkslag-krete het die skaal in ERU se guns geswaai.  “Met sulke aanmoediging word lam knieë, moeë bene en seer lywe, weer sterk – bepaald in die laaste paar minute van sulke harde  wedstryde.”

Booysen sê die betuur is dankbaar vir die toeskouers wat die elke week ondersteun, en die afrigters tevrede met die span se vertoning, en bly nederig en gefokus.

“In die idioom van Muhammad Ali het ERU op die verdediging gesteek soos bye en op die aanval was hulle so flambojant soos vlinders.

“Die speler van die wedstryd was ERU se  sagmoedige reus, die loskopstut, Sakki Klaas. In die skrums, in die vastelos en op die verdediging was hy `n yster.”

Cameron Mentoor het 18 van ERU se punte met `n drie, twee doelskoppe en drie strafdoele behaal. Duane Brown het `n drie gedruk.

Vir Vereeniging het Lenrich van Vuuren, Koos Bosman en Christo Kies drieë gerdruk. Hendrik Smit het twee verdoel en Adré Smit het met `n strafdoel geslaag.

Merlinliga

Dwaine Els van die Kempton Wolwe bars met die bal weg teen VUT. Op die grond is Zach van Loggerenberg. (Foto: Angie van Loenen)

Dwaine Els van die Kempton Wolwe bars met die bal weg teen VUT. Op die grond is Zach van Loggerenberg. (Foto: Angie van Loenen)

André Hartley, die voorsitter en mede-afrigter van Kemptonpark, sê die Edleen Spar “Wildehonde” het weer gees gevang na hul nederlaag teen ERU die vorige week.

Die eerste span het 54-17 teen die Vaal Universiteit vir Tegnologie (VUT) gewen. Die tweede het 57-0 gewen en die o.21-span 20-5.

Hartley sê hoewel die eerste span se agttal nog aan beserings mank gaan, het hy sy stempel vroeg al op die wedstryd afgedruk.

“Jakes Kritzinger (skrumskakel) het heelwat voorvoetbal aan André Smit (losskakel) besorg, en die agterlyn het gereeld die doellyn oorgesteek.

“Dwaine Els en Zach van Loggerenberg het die voorhoede bymekaar gehou om die VUT-manne in die skrums en lynstane te oorheers.”

Hartley sê Kempton se tweede span het die wedstryd uit die staanspoor oorheers en die telbord het ondanks die yswind bly rol, veral in die tweede helfte toe VUT se damwal gebreek het.

Met `n klompie nuwelinge in die span vanweë spelers wat vir die Valke se o.20-span speel, het die o.21s stadig begin maar mekaar gou gevind en as `n eenheid saamgespeel om 22-5 te wen.

Ander uitslae –

Peregrineliga-Top6

Eerste spanne

Springs 29, Boksburg 21.

Merlinliga

Eerste spanne

Nigel 40, NWU Vaal 33; Sasolburg 21, Benoni 14.

Tweede spanne

Nigel 14, NWU Vaal 12.

O.21-spanne

NWU Vaal 29, Nigel 7.

Kestrelliga

Edenvale Panthers 40, Elsburg 10.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.