Valkeliga: sleutelseges vir kampioen, uitdager

Brakpan-logoDie Valkekampioen en sy vernaamste uitdager het Saterdag sleutelseges in die opstellende ronde van die bond se Peregrineliga behaal.

Die titelhouer, Brakpan, het sy ou aartsvyand Springs 40-10 verslaan; en Vereeniging, wat vroeër met die Panne afgereken het, het sy hande vol gehad om Boksburg 27-22 te klop.

Brakpan en Vereeniging (wat `n wedstryd minder gespeel het) het albei 25 ligapunte en Boksburg 24. Dit laat die kollig skerp op laasgenoemde se tuiswedstryd op 14 Mei teen Vereeniging val.

In Saterdag se ander wedstryde in dié reeks het East Rand United (ERU) 41-34 teen Benoni gewen; die Edleen Spar Kempton Wolwe het 25-22 teen Sasolburg gewen; en die NWU Vaal het die Vaal Universiteit vir Tegnologie (VUT) 39-20 geklop.

♦ Harry Niewenhuizen, die voorsitter van Brakpan, sê die wedstryd teen Springs was baie hard en is tussen die voorspelers beslis.

“Brakpan moes hard werk en kon Springs eers in die tweede helfte onder bedwang kry. Die Panne het uiteindelik die losballe, skrums en die afbreekpunte oorheers, waar die voorspelers met Bones Robbertse en Theo Becker aan die voorpunt die harde werk gedoen het.”

Gido Horn, Tinus Ueckerman en Jaco Lotter het almal goed vertoon.

Becker, Jean Botha, Ueckerman en Vernon du Preez het drieë gedruk en Horn het vir die res van die punte gesorg.

boksburg-logo♦ Danie Matthee, die voorsitter van Boksburg, sê sy kragmeting teen Vereeniging was eweneens hard, maar dit was `n tipiese wedstryd van twee helftes.

“Vereeniging het die eerste helfte met sy voorspelers oordonder en sommer vroeg al 19-0 voorgeloop ná drie drieë en twee doelskoppe.

“In die tweede helfte het Boksburg se manne egter die hand uit die mou gesteek en as `n span begin rugby speel soos dit gespeel behoort te word.

“PJ Beukes het die span met goeie taktiese skopwerk op die voorvoet gehou.  Die momentum was daar, maar die tyd het Boksburg ongelukkig ingehaal,” sê Matthee.

“Dit was `n pragpoging deur Boksburg, veral gesien in die lig van die agt gereelde eerstespanspelers wat as gevolg van beserings nie beskikbaar was nie.

“Alle eer kom Vereeniging toe, wat uiteindelik 27-22 gewen het.”

Beukes het 12 van Boksburg se punte met `n drie, twee doelskoppe en `n strafdoel behaal. Attie van der Nest en Wilbur Harris het die ander drieë gedruk.

Harris was Boksburg se speler van die wedstryd.

Vereeniging se tweede span het 36-15 gewen, en die o.21s 50-24.

ERUembleem♦ Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê die klub se afrigterspan is tevrede met die ses pragdrieë wat hy teen Benoni gedruk het en die gevolglike bonuspunt, maar is teleurgestel in die algehele vertoning van die span.

“ERU se verdediging was middelmatig en het Benoni in staat gestel om vyf drieë te druk. Die skoppers het hul skopskoene by die huis vergeet en maklike strafskoppe pale toe verbrou. Die span se dissipline was swak en hy het baie ongedwonge foute begaan.”

Booysen sê die ERU-spelers het Benoni onderskat en toe byna hul moses teëgekom.

“Benoni het sy man in alle fasette van die spel gestaan, en ERU se patriotiese skare was stil toe die telling met minder as vyf minute oor 34-34 was.

“ERU het egter merkwaardige veggees getoon toe hy in die doodsnikke omkeerbesit op sy eie doellyn gewen en die beste drie van die wedstryd gedruk het. Die agterspelers het elk die bal twee-drie keer hanteer voordat Liam Lackay die pragbeweging met `n drie onder die pale afgerond het.”

Booysen sê ERU se kaptein, Fanie van Staden, en Piet Mnguni het uitgeblink, maar die speler van die wedstryd was die agsteman, Calvin Jantjies, wat op die aanval ERU elke keer met sy kragtige lopies oor die voordeellyn geneem en op die koop toe uitstekend verdedig het.

Lackay, Jacques van Tonder, Cameron Lentoor, Van Staden, Duane Brown en Dominque Perries het ERU se drieë gedruk. Brown, wat ook met `n strafdoel geslaag het, en Lentoor het elk twee verdoel. Brown het dus 12 punte bygedra.

Vir Benoni het Ruan du Plessis, Frederick van Staden, Arnold van der Berg en Wessel Duvenhage (twee) drieë gedruk. Marius Bezuidenhout se drie doelskoppe en `n strafdoel het nege punte opgelewer.

“ERU gaan nou terug na die swartbord,” sê Booysen, “en hoop om die foute reg te stel. Hy besef dat elke wedstryd hard gaan wees en dat geen span onderskat moet word nie.

“Hy verwag `n groot aanslag en ‘n harde wedstryd op 7 Mei teen die voormalige Merlinkampioen, Nigel, as hulle op die Reigerpark-sportterrein kragte meet.”

Xarxes Oosthuizen van Kemptonpark probeer `n Sasol-dryftog manalleen te stuit. (Foto: Angie van Loenen)

Xarxes Oosthuizen van Kemptonpark probeer `n Sasol-dryftog manalleen te stuit. (Foto: Angie van Loenen)

♦ André Hartley, Kemptonpark se voorsitter, is in sy noppies met die span se vertoning teen Sasolburg en die enorme ondersteuning wat die Barnardstadion uit sy nate laat bars het.

“Die eerste span het bly vasbyt en die besoekers in die laaste tien minute stil gespeel om die wendrie met `n kenmerkende beweging onder die pale te druk.

“Die spanlede ken en glo nou in mekaar en vertrou die  vars bene sal `n verskil in die tweede helfte maak.”

Hartley glo die tweede span was ongelukkig om 10-16 te verloor, onder meer omdat die skopskoene ontbreek het.

Hy sê die o.21-span, wat 26-0 gewen het, is nou op dreef en die verdediging was rotsvas. Met die fiksheid wat reggestel is, sal die span klubs soos Brakpan en Vereeniging se afrigters laat kop krap.

Meyerton val aan teen Delmas.

Meyerton val aan teen Delmas.

♦ Eurolux Knights United van Meyerton, die voorloper in die Kestrelliga, het sy posisie verstewig met sy groot oorwinning van 51-21 oor Delmas wat sewe drieë ingesluit het.

Alwyn du Plessis, `n woordvoerder van die klub, sê Michael Bosman (regtervleuel), wat 21 punte aangeteken het, en die flank Henk de Bruin, wat goeie werk aan die voorpunt gedoen het, was op die dag se spel Meyerton se uitblinkers.

Bosman het `n drie gedruk en met vyf doelskoppe en twee strafdoele geslaag.

Die linkervleuel Hennie Swarts en die losskakel Jessy Forberg, het elk twee drieë gedruk en Conrad Swanepoel (binnesenter) en Ferdinand Swarts (agsteman) een elk.

buffels♦ Gouws Booyens, die voorsitter van Buffels (Grootvlei), wat tans tweede op die Kestrel-punteleer is, laat weet sy span het Heidelberg 36-10 geklop.

Die slot Danie Dempskey en die skrumskakel Pieter le Grange het elkeen twee drieë gedruk en Gouws Booyens (agsteman) en Pitso Moloi (losskakel) een elk. Moloi het ook met drie doelskoppe geslaag vir `n eie bydrae van 11 punte.

Ander uitslae –

Peregrine-uitspeelronde

Tweede spanne: NWU Vaal 10, VUT 10; ERU 49, Benoni 0; Brakpan 29, Springs 19.

O.21-spanne: Nigel 25, Vanderbijlpark 15; NWU Vaal 15, VUT 10; Springs 41, Brakpan 27.

Kestrelliga

Edenvale Panthers 22, Vanderbijlpark 10; Elsburg 36, Oos-Randse Polisie 28.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.