Valkeliga: trane rol toe Brakpan in stof byt

Brakpan, wat die Valke-rugbyunie (VRU) se klubrugby die afgelope klompie jare oorheers het, se appelkar is Saterdag onverwags in die halfeindstryd van die bond se Peregrineliga omgekeer.

Die span, wat verlede jaar in die Goue Beker-halfeindronde met 32-44 teen die uiteindelike kampioen (Rustenburg Impala) verloor het, se plan om die bordjies vanjaar te verhang, is verpletter toe East Rand United (ERU) hom in sy eie Bosmanstadion met 36-30 geklop het.

Vereeniging het Springs in die ander halfeindstryd met 31-25 getroef.

Skaars twee weke gelede nog het die Panne (eerste op die punteleer) die Reigerparkse span (vierde) op dié se tuisveld in die laaste rondomtaliebotsing met 40-10 afgeransel. Hy het ook die vorige kragmeting met 52-37 oorheers.

Dié opspraakwekkende sege kom byna gelyktydig met die SA Rugbyunie se aankondiging Saterdag dat ERU ʼn promotorskeuse vir 2018 se Goue Bekerreeks is. Dit dien waarskynlik as ʼn regverdiging vir Saru se besluit.

Colin Booysen, ERU se spanbestuurder, laat weet daar was trane van blydskap toe die eindfluitjie blaas, “en daar is tot in die oggendure gemakietie en feesgevier in Reigerpark”.

Hy sê Brakpan het nie geweet wat hom tref nie toe ERU se fanatiese toeskouers die Bosmanstadion laat dreun het met hul kenmerkende krete: “Hier kom ʼn ding” en “Yes, we can”.

“Selfs toe Brakpan rustyd met 13-9 voorloop het, het ERU se getroue ondersteuners nooit getwyfel in hul span nie, en nóg harder geskreeu.

Sout in die wonde

“Brakpan het verwag dat ERU sy gevaarlike agterlyn deurentyd gaan gebruik om aanvalle van stapel te laat loop. Tot sy skok het die wenspan se vaskopstut, Saki Klaas (130 kg en 1, 85m), die hakstene vir Brakpan gewys, en meer as 25 m gehardloop vir een van die beste drieë van die seisoen.

“Om meer sout in hul wonde te vryf het ERU se lenige slot, Kholekile Bakumeni (115 kg en 2,00 m), meer as 22 m afgelê vir ʼn skitterende drie.

“Dit het die getroue Brakpan-ondersteuners se harte gebreek en hul drome verpletter.”

Op papier is Vereeniging die gunsteling om die eindstryd in die Barnardstadion op Kempton Park te wen. Hy het – nes die Panne – albei rondomtaliestryde teen ERU gewen.

Generaal

Booysen sê Andy Huysamen, ERU se losskakel, was die generaal in die oorwinning.

“Hy het ERU gereeld met skitterende taktiese skopwerk op die voorvoet geplaas. Hy het ook sy skopskoene aangehad, en 21 punte met vyf strafskoppe en drie doelskoppe aangeteken.”

Clayton Gindan het die wenspan se ander drie gedruk.

ERU se o.21-span het eweneens die eindstryd gehaal deur Springs met 41-29 uit te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.