Valkeliga: twee nuwelinge in Peregrine-reeks

vereenigingTwee nuwelinge het na afhandeling van die opstellende ronde van die Valke-rugbyunie (VRU) se Peregrine-liga vir die bond se senior reeks in aanmerking gekom.

East Rand United (ERU) van Reigerpark, en Nigel het verlede jaar nog aan die bond se Merlin-liga deelgeneem. ERU het dié liga gewen, maar moes van nuuts af vir deelname aan die topliga (ERU) uitspeel toe die ligastruktuur gewysig is.

Die Valkekampioen, Brakpan, asook Springs, Vereeniging en Boksburg is die spanne van verlede jaar wat oorbly. Die Luipersspanne van verlede jaar, Vaal Reefs en Klerksdorp, het vanjaar hul lot by die Griffons ingewerp en die NWU Vaal is na die Merlin-liga afgeskuif.

Die  ander deelnemers aan die tweedevlakreeks is Kemptonpark, Benoni en Sasolburg.

Brakpan het met 40 ligapunte afgesluit, Springs met 39 en Vereeniging met 38 wat `n vuurwarm stryd in die pylvak beloof.

Vereeniging het Sasolburg Saterdag voor sy tuisskare 62-0 afgeransel.

Francois Penning, die wenklub se voorsitter, sê die groot voorspelers van Sasolburg het hul lippe afgelek vir die kans om Vereeniging in die skrums en die vaste los te probeer boelie, maar kon dit toe nie regkry nie.

“Vereeniging het eerste gaan druk toe sy monsteragtige linkervleuel, Arno Poley, teen die kantlyn af gehardloop het en alles wat voor hom was uit die pad geloop het voor hy `n lang aangee binne toe gegee het, waar die skrumskakel, Ryno Hendrikz, sy eerste van twee drieë gaan druk het.

“Daarna het Poley weer by die kantlyn afgestorm en die keer self gedruk het. Hy is kort na hierdie meesterlike vertoning van die veld af met `n boudspier wat gepla en hom laat besluit het om eerder nie verder te speel nie.”

Poley is deur `n nuwe speler, Devan van Eeden, vervang, wat skaars drie weke by die klub is.

Penning berig Van Eeden het `n droomdag beleef en `n driekuns behaal voor hyself met `n besering van die veld af is.

Vereeniging was rustyd reeds 38-0 voor, en die skrif aan die muur vir Sasolburg.

“In die tweede helfte het Vereeniging die krane oopgedraai en sy voorspelers het die groot agttal van Sasolburg ore aangesit.

“Met goeie balbesit vir die agterlyn kon die losskakel en staatmaker, Corné Uys, die snellers met vaart wegstuur en amper al Vereeniging se agterspelers kon gaan druk tydens die aantreklike en skouspelagtige hardlooprugby waarop die skare getrakteer is.

“Die buitesenter, Lenrich van Vuuren, het `n pragdrie gedruk, en die puntemasjien-heelagter, Hendrik Smit, het nog een gaan druk en geslaag met ses doelskoppe om sy totaal vir die seisoen op te stoot tot 128 punte, wat hom die reeks se voorste puntemaker maak.”

Smit se totaal is een meer as wat Cameron Lentoor van ERU behaal het.

Die wedstryd is `n kwartier vroeg gestaak.

Vereeniging se tweede span het op sy beurt sy Sasolburgse eweknie 43-22 verslaan, en veral in die tweede helfte baljaar en Sasol se verdedigers na die wind laat gryp.

Die agsteman, Koos Bosman, `n kleinseun van die legendariese Transvaalse en Vereenigingse stut Piet Bosman, het twee drieë gedruk en Penning sê hy maak weer aanspraak op sy plek in die eerste span nadat hy van `n besering herstel het.

“Die groot slot, Johan Groenewald, se stormlope was weer baie moeilik om te keer, en die flank Quintin Minnaar lyk ook weer gereed vir eerstespanrugby na sy besering.

“Agterlangs was die senter, Dominic Cloete, puik op die aanval, en die tweede span sal sy onoorwonne status nie goedsmoeds afstaan nie.”

Vereeniging se o.21-span het op sy beurt Sasol se o.21s 26-5 verslaan in `n wedstryd gekenmerk deur baie onnodige skrums en vreemde reëlvertolkings deur die skeidsregter.

“Met tye is daar goeie rugby gespeel, maar die wedstryd kon nie aan die gang kom nie en is gedurig onderbreek deur skrums wat val en wisselvallige besluite.”

Penning sê die klein skrumskakel van Vereeniging, Jandré Venter, het deurlopend goed gespeel en met sy klein bou van die groot manne grond toe gevat. Hy is beloon met `n onderskepdrie.

ERUembleemIn nog `n wedstryd in die uitspeelliga het ERU 56-20 teen Kemptonpark gewen, nadat hy rustyd 19-13 voor was.

Colin Booysen, ERU se spanbestuurder, sê die klub het sy eerste doelwit vir die seisoen bereik deur vir die Peregrine-Top6-liga in aanmerking te kom.

“Kemptonpark het in die eerste helfte goed gespeel en ERU was rustyd slegs 19-13 voor.

“Die Reigerparkers het egter in die tweede helfte die besoekers `n ryugbyles geleer en 40 punte aangeteken, terwyl hulle slegs sewe afgestaan het.  ERU het alle fassette oorheers, Kempton stukkend gehardloop en nege driee gedruk.”

Booysen sê Theo Rhodes (senter) was uitstekend op die verdediging en Piet Mnguni (flank) was oral op die veld.

“Die speler van die wedstryd was egter ERU se veelsydige agterspeler, Cameron Lentoor, wat 39 punte aangeteken het. Dit sluit vyf driee en sewe doelskoppe in. Op die aanval was hy `n doring in die vlees van Kempton.”

Calvin Jantjies, Clayton Gindan, Morné Badenhorst en Sakkie Klaas het die wenspan se ander drieë gedruk.

Vir Kemptonpark het Ruan Venter en Jaco Kritzinger elk `n drie gedruk. Adré Smit het albei verdoel en met twee strafdoele geslaag.

Booysen sê die klub se volgende doelwit is om vir die halfeindronde van die liga in aanmerking te kom.

“Die afrigterspan besef dat dit nie maklik gaan wees nie. Hulle het egter baie geleer in die kragmetings tydens die eerste ronde. Die afrigterspan en die spelers besef dat elke wedstryd baie hard gaan wees, omdat alle spanne die uitspeelrondes wil haal.

“ERU is die buiteperd en die groentjie in die Peregrine-liga.

“Al die spanne teen wie hy gaan kragte meet – Brakpan, Springs, Vereeniging en Boksburg – het hom in die opstelronde geklop.

Dit was egter almal wegwedstryde.”

Booysen sê ERU sien daarna uit om op “Die Begraafplaas”, soos die Reigerpark-rugbyveld plaaslik bekend staan, as gasheer vir die hardebaarde op te tree.

“Geen besoekende span kon nog hierdie seisoen vir ERU op sy tuisveld klop nie.

“ERU gaan al die ondersteuning van sy fanatiese ondersteuners nodig hê. Die bestuurspan hoop dat die toeskouers se slagspreuke soos ‘hier kom `n ding, hou duiwel hou’ die spelers sal aanvuur om hierdie hardebaarde soos menige ander te ‘begrawe’.”

Jacques de Lange druk een van sy twee driee vir Meyerton teen Vanderbijlpark. (Foto: Anthony Lloydd)

Jacques de Lange druk een van sy twee driee vir Meyerton teen Vanderbijlpark. (Foto: Anthony Lloyd)

Die twee klubs se tweede spanne het 10-10 gelykop gespeel. Die rustydtelling was 5-5.

ERU se o.21s het 50-5 gewen (rustyd 36-5).

Kestrel-liga

Eurolux Knights United van Meyerton het Vanderbijlpark 30-19 in die Kestrel-liga geklop om sy status as voorloper te bevestig.

Anthony Lloyd, die voorsitter van Knights, laat weet Michael Bosman (linkervleuel) het twee drieë vir die wenspan gedruk en een verdoel. Awie Vermeulen (skrumskakel) het `n drie geruk en `n strafdoel behaal, en Jacques de Lange (plaasvervanger-haker) het twee drieë gedruk.

Vir Vanderbijlpark het Duane van Schalkwyk 14 punte met `n drie, twee strafdoele en `n skepdoel behaal. Leroy Pretorius (linkervleuel) het `n drie gedruk.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Llewellyn ·

So ver ek weet het Vereeniging en ERU in die opstelrondte gelykop gespeel.

Heinrich ·

My gehee is nie so lekker maar Vereeniging en ERU was 16-16 op n nat veld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.