Valkeliga: Vereeniging mik vanjaar nog na GB

vereenigingVereeniging mik daarna om later vanjaar een van die twee vakante plekke in die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker (GB) te vul.

Dis geen ydele praatjies nie, want die klub het verlede jaar die eindstryd van die Valke se Peregrineliga gehaal, voor hy deur Brakpan geklop is.

Hoewel dit nog nie bevestig is nie, sal die Panne waarskynlik as die 2015-wenner die Valke in die GB-reeks verteenwoordig. Dit behoort die Vaaldriehoekse span een van die gunstelinge te maak om die Valkeliga te wen.

Dan lê die uitspeelstryd voor tussen die klubs landwyd wat vanjaar hul ligas wen en nie reeds vir die reeks gekwalifiseer het nie.

Koos Bosman, die ondervoorsitter van Vereeniging, sê Stefan Jacobs, die hoofafrigter, werk hard met die spelers om dié doelwit te bereik.

Vereeniging, wat vanjaar reeds 102 jaar oud is, se tweede span het verlede jaar sy liga gewen en die o.21s is in die halfeindstryd uitgeskakel.

Bosman sê die klub het heelwat nuwe spelers, almal uit die Vaaldriehoek, bygekry.

“Ons is opgewonde oor die jaar wat voor lê. Dit gaan baie goed met die klub en die gees tussen die spelers is ongelooflik goed .

“Ons wil voorts probeer om die o.21-liga te wen en sodoende vir die o.21s se Goue Bekerreeks in aanmerking te kom indien dit vanjaar `n werklikheid word.

“En natuurlik wil ons tweede span sy beker behou.”

Bosman sê al die klub se afrigters het behoue gebly , met die uitsondering van een van die junior afrigters wat ander weivelde gaan soek het.

“Ons het JP Smit as afrigter by ons o.21-groep bygekry. Hy is `n breier met baie kennis en gewis `n aanwins met die oog op die toekoms.”

Vereeniging speel Saterdag sy eerste vriendskaplike wedstryd teen Randfontein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.