Valkeliga: Vereeniging wen naelbytstryd teen ERU

Verlede jaar se naaswenner van die Valke se Pergrineliga het Saterdag in Vereeniging ʼn naelbytoorwinning oor East Rand United (ERU) in die liga behaal.

ERU het die wedstryd naelskraap met 33-35 verloor, nadat hy rustyd met 23-22 voor was.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê die wedstryd het heeltyd wipplank gery, en Vereeniging het die wedstryd in die doodsnikke gewen nadat hy ʼn strafskop oorgeklits het.

“Die wedstryd was hard, en is in ʼn goeie gees gespeel. Soos verwag is, het ERU die bal baie lug gegee, terwyl Vereeniging met sy voorspelers gespeel het – die optel-en-dryf-aanslag.

“Vereeniging, die afgelope twee jaar die Valke se naasbeste span, besef hy was baie gelukkig om dié wedstryd te wen.

“Albei spanne het goeie rugby gespeel en dis jammer dat daar ʼn wenner moes wees.”

Booysen sê die bal het by twee geleenthede vir ERU verkeerd gespring met die doellyn wat wink.

“Die span is op die regte pad en hoop om voort te bou op dié vertoning. Hy sien uit na die herontmoeting met Vereeniging later in die seisoen op die ‘Begraafplaas’ in Reigerpark.”

Klolekile Bakumeni, ʼn lenige slot van ERU, het uitmuntend vertoon, en is as die speler van die wedstryd aangewys.

“Hy was die ruggraat van ERU se lynstaanwerk, en ʼn yster in die vastelos.”

Cameron Lentoor, André Myburg en Tiaan Ramat het ERU se drieë gedruk. Andy Huysamen het al drie verdoel en met vier strafdoele geslaag.

Vereeniging se tweede span het met 24-15 gewen, en ERU se o.21-span met 14-10.

ERU speel eerskomende Saterdag tuis – voor sy fanatieke skare – teen die Valke se verdedigende kampioen, Brakpan, wat verlede jaar die halfeindstryd in die internasionale reeks om die Goue Beker gehaal het.

Kestrelliga

♦ In die Kestrelliga het die Buffels van Grootvlei ʼn rustydagterstand van 12-17 uitgewis om met 22-22 met die verdedigende kampioen, Edenvale, gelykop te speel.

Gouws, Booyens, die Buffels se voorsitter, sê die wedstryd was kliphard, en die telling het die hele tyd wipplank gery.

“Gelukkig kon die volle twee helftes gespeel word, en is die wedstryd nie soos die Buffels se vorige twee in die tweede helfte gestaak nie.

“Die Buffels het ná rustyd teruggeveg om weer die voorsprong te neem, maar met enkele sekondes oor het Edenvale ʼn drie gedruk, en die telling gelykop gemaak.

“Gelukkig vir die Buffels kon Edenvale se skopper met twee probeerslae nie die teiken tref nie.”

Die Buffels se volgende wedstryd is eerskomende Saterdag tuis teen Meyerton, in dié stadium sy vernaamste struikelblok in die reeks, en die klub se ondersteuners kan ʼn taai kragmeting verwag.

Die afskop is 15:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.