Valkeliga: Vereeniging wen oorlog teen Brakpan

Vereeniging se span wat Brakpan geklop het.

Vereeniging se span wat Brakpan geklop het.

Vereeniging het Saterdag nie net die voortsnellende Valkekampioen en Goue Bekerspan, Brakpan, gestuit nie, maar die kragmeting verrassend ver gewen.

Verlede jaar se naaswenner was rustyd 18-15 voor en het op die ou end 54-22 gewen.

In die ander wedstryde in die opstellende ronde van die Peregrineliga het Boksburg 40-30 teen Nigel gewen; East Rand United (ERU) het 44-13 teen Sasolburg geseëvier; en Benoni het die Vaal Universiteit vir Tegnologie (VUT) 36-14 geklop.

♦ Koos Bosman, die ondervoorsitter van Vereeniging, sê dit was behoorlik oorlog toe Brakpan met al sy ammunisie op Vereeniging losgebrand het op die veld van Phoenix High in Vereeniging.

“Die eerste helfte was `n trompop stryd wat almal op hul tone gehou het,” sê hy.

Kort voor rustyd het Hendrik Smit `n strafdoel deur die pale gejaag om Vereeniging 18-15 te laat voor loop toe die spanne gaan rus het.

“Die tweede helfte was `n totaal ander storie. Brakpan se muur het eenvoudig gebreek.

“Arno Poley van Vereeniging het drie drieë gaan druk om die telling aan die rol te hou.”

Bosman sê die bal het maar min na Brakpan se kant gekom en sy staatmakers soos Sweef Potgieter en Thinus Ueckermann moes bloot verdedig, waar hulle gewoonlik die gif in Brakpan se angel is. Ashley Buchler se dodelike skopskoen het ook nie baie kans gehad om pale toe aan te lê nie.

Junius Deysel, die flank van Vereeniging, het seker gemaak dat sy span die meerderheid balbesit gekry het, en agterspelers soos Marchant Genis en Poley het dit skouspelagtig benut om die telling tot 54-22 in Vereeniging se guns te voer.

Deysel was die speler van die wedstryd.

Vereeniging se tweede span het 15-10 en sy o.21-span 53-12 gewen.

Dit laat al drie die klub se spanne onoorwonne in die Valkeliga.

♦ Vereeniging was tradioneel een van die sterk klubs in die ou Transvaal en die latere Vaaldriehoek, en een van sy destydse legendes, Piet Bosman, se seun (Koos) en kleinseuns speel nou `n sterk rol in die klub se heropbou.

boksburg-logo♦ Boksburg is ná sy sege Saterdag teen Nigel steeds onoorwonne in vyf wedstryde, en is nog een van die eerstydse sterk Transvaalse klubs wat besig is om `n terugkeer te maak.

Danie Matthee, die voorsitter van Boksburg, sê die kragmeting het vinnig begin met JP Joubert, Boksburg se staatmaker-binnesenter, wat vroeg in die wedtryd `n pragdrie gaan druk het.

“Boksburg het ongelukkig baie onnodige foute gemaak en sodoende homself heeltyd onder druk geplaas.

“Die span het egter verskeie goeie lopies ingekry, wat in drieë omskep is.

“Sy losvoorpslers het baie goed gespeel met die agsteman, Gerhard Coetzee, wat aangewys is as Boksburg se speler van die wedstryd.”

Mathee sê met agt gereelde eerstespanspelers wat as gevolg van beserings nie beskikbaar was nie, het Boksburg baie goed gevaar, en verbeter hy met elke wedstryd.

JP Joubert (twee), Berend Peens, Danie (Spider) Schultz, Adriaan van der Nest en Markus Leonard het Boksburg se ses drieë vir `n welverdiende bonuspunt gedruk. PJ Beukes het vyf verdoel.

Boksburg speel eerskomende Saterdag op Prins Georgepark, Boksburg, teen Vereeniging.

“Gesien in die lig van Vereeniging se goeie vertoning die afgelope naweek teen Brakpan, beloof die wedstryd om Boksburg in menige opsigte te beproef,” sê Matthee.

ERUembleem♦ Dit lyk of die boedstryde tussen ERU en Sasolburg voorlopig minstens tot die verlede behoort nadat die span van Reigerpark Saterdag sy ou aartsvyand in die Merlinliga op dié se tuisveld oortuigend 44-13 geklop het (rustyd 22-8).

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, sê die wenspan het sprankelende hardlooprugby opgedis en sewe pragtige langafstanddrieë gedruk. Almal is in die half- of kwartgebied van ERU aangevoor.

Booysen sê ERU se afrigterspan is hoogs tevrede met die span se vertoning.

“Die selfvertroue groei noudat  ERU vir die eerste keer sy kenmerkende flair tentoongestel het.

“Sasolburg se swaar voorspelers het probeer om ERU te intimideer en te oordonder, maar is in hul spore gestuit deur rotsvaste  verdediging van die besoekers,” laat weet Booysen.

“Hier was die kaptein, Fanie van Staden, Andries van der Merwe en Ronald Botes uitstekend.

“Die speler van die wedstryd, die speelkantflank, Peter Mnguni,  het die veld vol gespeel. Hy het die groot Sasolburg-voorspelers frustreer deurdat hy hulle deurentyd trompop gevat het. Hy was ook `n yster op die verdediging en is voorts met `n skitterdrie beloon.”

Booysen sê ERU het geweet dat indien hy met die bal sou hardloop dit `n lang middag vir Sasolburg en sy swaar voorspelers sou wees. “En dit was `n baie  l-a-a-a-ng middag vir `n en m-o-e-e-ë Sasolburgse rugbyspan.”

Liam Lackay (twee), Duane Brown, Cameron Lentoor, Mnguni, JP Fleming en Gary Nkomo het ERU se drieë gedruk. Brown het drie doelskoppe en `n strafdoel by sy drie gevoeg om sy totaal op 14 te staan te bring.

Vir Sasolburg het Ferdi Oberholzer en Willie Swart drieë gedruk en George de Beer `n strafdoel behaal.

ERU se tweede span het 19-13 en die o.21-span 45-13 gewen.

Die klub se volgende wedstryd is eerskomende Saterdag teen Benoni op die Reigerpark-sportterrein.

meyerton knights♦ In die Kestrelliga het Eurolux Knights United (Meyerton) sy wedstryd op die veld van die Hoerskool Dr Malan op Meyerton teen die Buffels (Grootvlei) 39-13 gewen.

Anthony Lloyd, die voorsitter van Knights, sê dit was `n aantreklike en lekker skoon wedstryd waarin Ryan Verster en Conrad Swanepoel vir die wenspan uitgeblink het.

Verster (heelagter) het drie drieë gedruk en Swanepoel (binnesenter) een. Knights se ander drieë is Henry van der Lith (buitesenter) en Vian De Beer (haker) gedruk. Jessie Forberg (losskakel) het met `n strafdoel en `n doelskop, en Michael Bosman (vleuel) met twee doelskoppe geslaag.

Ander uitslae –

Peregrine-uitspeelliga

Tweede spanne: VUT 10, Benoni 10; Boksburg 7, Nigel 7.

Onder 21-spanne: Boksburg 29, Nigel 10.

Kestrelliga

Edenvale Panthers 29, Oos-Rand Polisie 21.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.