Valkeliga: verwoestende Vereeniging vat voor

vereeniging`n Verwoestende Vereeniging het Boksburg Saterdag verniel om die voortou in die Valke se Peregrineliga (Top6) te neem.

Die Vaaldriehoekers het 81-24 gewen en het nes Springs nou 19 ligapunte, maar spog met `n beter batige puntesaldo.

Die huidige kampioen, Brakpan, is derde met 15 punte, maar het twee wedstryde minder as Vereeniging en een minder as Springs gespeel.

Francois Penning, `n komiteelid van Vereeniging, sê die klub se seisoen is weer op dreef ná sy skoknederlaag teen East Rand United (ERU) twee weke gelede.

“Vereeniging was op sy heel beste en het die Boksburgers uit die staanspoor uitmekaar gehardloop en elke faset van die wedstryd oorheers.

“Hy het 13 pragdrieë gedruk, wat die skare soms laat wonder het waar die span die afgelope paar weke was,” het Penning aan Pale Toe! gesê.

“Een van die pronkstukke het gevolg toe Vereeniging sommer uit die eerste vaste faset aangeval het, en die buitesenter, Lenrich van Vuuren, `n goeie lyn gehardloop en regdeur genael het om die eerste van sy drie drieë te gaan druk.

“Voor het die groot flank Quinten Petzer `n fantastiese dag beleef waar hy `n slag of wat die verdediging die hakskene gewys en vier keer gaan druk het.”

Penning sê Vereeniging se groot voorspelers het lang ente veld met hul stormlopies gewen, en veral die slotpaar, Johan Groenewald en De Wet van Wyk, verdien lof vir hul inklimspel.

“Die flank Junius Deysel het soos gewoonlik `n terreur op die grond gevoer en het self `n drie gedruk.

“Agterlangs het die monsteragtige vleuel Arno Poley weer op die aanval verbyster, en Corné Uys en Ryno Hendrikz het as skakelpaar blink vertoon.

“Die puntemasjien Hendrik Smith is met `n drie beloon en het met agt doelskoppe geslaag (21 punte) om sy totaal vir die seisoen tot 156 op te skuif en hom gemaklik in die eerste plek in die liga plaas.”

Hy sê Koos Bosman jr het op agsteman sy beste wedstryd in `n lang tyd gespeel.

“Op die aanval het hy soos `n warm mes deur botter gesny en sy verdediging was rotsvas. Hy het `n pragtige breekslag van Poley afgerond en gaan druk.”

Penning sê die speler van die wedstryd was gewis die binnesenter, Marchant Genis, “wat `n hand in elke liewe drie gehad het en soms met sy betowerende spelvaardighede die skare na hul asem laat snak het. “Sy soms briljante hardlooplyne en verspreiding se gelyke was nie op die veld te sien nie.”

Dit het gelyk na die Vereeniging van ouds, sê Penning, en die span se voorbereiding sal baie belangrik wees voor sy groot tweestryd teen Brakpan oor drie weke, veral ná sy verrassende oorwinning vroeër dié seisoen teen die kampioen.

Penning sê Vereeniging se tweede span, die enigste onoorwonne span in die liga, het Boksburg 50-7 geklop in `n wedstryd wat eweneens deur aanvallende rugby en langafstanddrieë gekenmerk is.

“Sy swaar agttal het Boksburg deurentyd op die agtervoet gehad sodat die gevaarlike agterlyn met gemak kon aanval.”

Hy sê die flank Tiaan Rautenbach het in sy eerste wedstryd van die seisoen uitgeblink, en drie drieë gedruk, waarvoor hy twee keer ver moes hardloop.

“Die tweede span moet slegs sy volgende wedstryd teen Brakpan wen om die liga die tweede opeenvolgende jaar te beklink.

Penning sê Vereeniging se o.21-span het sy beste vertoning in `n lang ruk gelewer en Boksburg 64-5 oorrompel.

“Die jong manne het baie goed saamgespeel en was bitter gevaarlik op die aanval. Veral die voorspelers het die besoekers kis geduik en meters ver teruggestuur.

“Die aanvallende heelagter, Henlo Keyser, het `n droomdag beleef, het uiters gevaarlik aangeval en vier drieë gedruk. Sy 17 drieë dusver is die meeste in die reeks.

“Die losskakel en kaptein, Pleij van den Broek, het sy agterlyn goed weggestuur en met agt doelskoppe en `n strafdoel geslaag (19 punte).

“In die voorhoede het die loskopstut, Broge Ré, en die flank Ruan Vermeulen uitgeblink.”

ERUembleemColin Booysen, die spanbestuurder van ERU, berig Brakpan se ervaring was Saterdag een te veel vir die Reigerparkers, en die Panne het getoon dat hy nie maklik sy status as Peregrine-kampioen sal prysgee nie.

“Brakpan het `n kliniese vertoning in die tweede helfte gelewer en die wedstryd maklik 50-15 gewen.”

Booysen sê ERU het goeie rugby in die eerste helfte gespeel en Brakpan was rustyd slegs 14-8 voor.

“ERU, wat bekend is vir sy terugvegpogings in die tweede helfte, het hom die keer teen `n genadelose Brakpan-agttal vasgeloop.

“Brakpan se afrigterspan het sy tuiswerk gedoen en die regte taktiese veranderings voorlangs aangebring – nadat die eerste helfte baie fisiek was. Die Panne het vars bene opgestuur en ERU se agttal kon nie die hernude fisieke aanslag baasraak nie.

“Met aggressiewe dryf-, rol-, en maalbewegings het hulle stelselmatig die wurggreep op die onervare ERU agttal verstewig. Dit het die grondslag gelê vir die agterspelers om te baljaar.”

Booysen sê ERU sal nou teruggaan na die tekenbord en hom voorberei vir sy volgende wedstryd Saterdag 9 Julie teen Boksburg Saterdag. Hy hoop steeds om die halfeindronde te haal al sal dit `n opdraande stryd wees.

“Soos telkemale in die verlede sal hy terugveg.”

ERU se haker, Shaun de Wet  was die span se speler van die wedstryd. Booysen sê hy het hard in die vastelos gewerk en geen tree vir die meer ervare Brakpanse agttal teruggestaan nie.

Dustin Losch en Monde Kinana het ERU se drieë gedruk. Cameron Lentoor het `n doelskop en `n strafdoel behaal.

Brakpan se tweede span het 34-18 gewen (rustyd 20-10), en ERU se o.21-span was 25-0 baas (15-0).

Ander uitslae –

Merlinliga

Eerste spanne

Kemptonpark 31, Nigel 26; NWU Vaal 32, Benoni 28.

Tweede spanne

Nigel 19, Kemptonpark 14; Benoni 19, NWU Vaal 17.

O.21-spanne

NWU Vaal 55, Vanderbijlpark 0; Kemptonpark 36, Nigel 14.

Kestrelliga

Delmas 24, Oos-Randse Polisie 21; Buffels (Grootvlei) 69, Vanderbijlpark 14.

Uesheliga

Katlehong 38, Sebokeng 5.

(Klubbesture word genooi om bondige wedstrydverslae Maandae voor 11:00 vir publikasie aan Pale Toe! by [email protected] te stuur.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.