Valkeliga: vuurwarm ontvangs wag op nuweling

ʼn Vuurwarm ontvangs wag Saterdag op die nuweling in die Valkerugbyunie (VRU) se Peregrineliga wanneer die eerste skote in die bond se twee topreekse klap.

NWU Vaal, wat bevorder is nadat hy verlede jaar die Merlinliga gewen het, kom teen Vereeniging te staan, wat in verlede jaar se uiters strawwe Peregrine-eindstryd met ʼn enkele punt (34-35) teen Brakpan verloor het. Al troos vir die studente is dat die wedstryd op hul tuisveld gespeel word.

Die verdedigende kampioen, Brakpan, wat op die ou end die halfeindstryd van die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker bereik het, begin die seisoen met ʼn wegwedstryd teen Boksburg.

In die ander wedstryd in die reeks reis East Rand United (ERU) van Reigerpark na Springs om teen die tuisspan kragte te meet.

Merlinliga

♦ Verlede jaar se naaswenner van die Merlinliga, Nigel, kry tuis met Sasolburg, ʼn taai kalant, in sy eerste wedstryd van die seisoen te kampe.

Kemptonpark en die Vaal Universiteit vir Tegnologie (VUT) spook sake in die ander wedstryd in dié reeks op eersgenoemde se tuisveld uit.

Kestrelliga

♦ Die spanne in die Kestrelreeks het elk al twee wedstryde agter die blad, en die kragmeting tussen die onoorwonne Edenpark (voorloper) en die Buffels (derde) sal veral onder die loep kom.

Edenpark vaar dié seisoen verrassend goed nadat hy die afgelope paar jaar gesukkel het.

Die ander onoorwonne span, Meyerton, sal op sy tuisveld ver teen Oos-Rand Polisie wil wen, in die hoop dat ʼn gelykop Edenpark-Buffels-stryd sonder bonuspunte hom (Meyerton) boaan die punteleer kan laat.

Die verdedigende kampioen, Edenvale Pathers, het nog nie vanjaar gewen nie, en sal dit tuis teen Heidelberg moet regkry as hy hom uit die agtste plek (uit tien spanne) wil lig.

Die agterosse Delmas en Kathlehong Tigers spook sake op eersgenoemde se veld uit.

Opgesomde punteleer –

Kestrelliga

Edenpark 10, Meyerton 10, Buffels 10, Elsburg 6, Heidelberg 6, Oos-Rand Polisie 6, Vanderbijlpark 5, Edenvale Panthers 0, Delmas 0, Kathlehong Tigers -2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.