Valkeliga: Boksburg sorg vir opperste skok

Ewing du Plooy van Kempton Park dra die bal doellyn toe teen VUT nadat Charlton Anderson platgetrek is. Wayne Havenga en Dwaine Els is op pad om te gaan help. (Foto: Kempton Wolwe)

Boksburg het Saterdag vir ʼn opperste skok in die openingswedstryde vir die Valke-rugbyunie (VRU) se Peregrineliga gesorg.

Hy het die verdedigende kampioen, Brakpan, wat die halfeindronde in verlede jaar se internasionale reeks om die Goue Beker gehaal het, met 25-17 geklop.

Springs het ook verrassend ver teen East Rand United (ERU) gewen deur die Reigerparkers met 49-27 te verslaan.

Verlede jaar se naaswenner, Vereeniging, het goed afgeskop deur die nuweling in die reeks, NWU Vaal, met 71-14 te looi.

Bloed, sweet, hare waai by Wolfskuiling

♦ Die bloed, sweet en hare het Saterdag letterlik en figuurlik by die Wolwe se skuiling in die Barnardstadion gewaai, toe al drie Kempton Park se spanne hul teenstanders van die Vaal Universiteit vir Tegnologie in ʼn waarskuwing aan die Merlinklubs verslind het.

Só berig André Hartley, die voorsitter en afrigter van Edleen Spar Kempton Park, aan Pale Toe!

Die eerste span het met 64-14, die tweede met 38-26 en die o.21-span met 85-7 gewen.

Hartley sê die Wolwe se Wildehondetrop is versterk met ʼn paar ou gesigte (Wayne Havenga, Ryno Greyling, Zac van Loggerenberg, Pietie Lubbe, Nico Engelbrecht) wat terug by die klub is.

“Nuwe manne soos Erwing du Plooy, Mike van Vuuren, Ferdie Erasmus, Wayne Allen en Charlton Anderson het hul verbondenheid duidelik getoon.

Tande gewys

“In die agterlyn het die generaal André Smit en Chrissie Kasselman die doellyn met goed gestruktureede bewegings gejag, puik aangevul deur Jaco Kritzinger en Janu du Toit.

“Die vaste spel was indrukwekkend. Die agttal het ʼn paar keer tande gewys, veral Erwing du Plooy wat die hakke vir die VUT-spelers met ʼn 45 m-naelloop langs die kantlyn af gewys het, en toe hy platgetrek is, die bal na die voorspelers opgewip het, wat die doellyn oor is.

“Ook die bankspelers het ʼn paar keer agter VUT se doellyn gaan kuier.”

Hartley sê hy is as afrigter beïndruk deur die spel, veral ook met die verdedigingslinies in die tweede helfte, maar die span se fiksheid het aandag nodig.

Kobus Roets (twee), Kritzinger, Du Toit, Havenga, Anderson (twee), Engelbrecht en Jan Botha (twee) het die eerste span se drieë gedruk. Smith het ses verdoel, en Erasmus een.

Wenkombinasie

Onder die leiding van die Kempton-veteraan Billy Harris, het die tweede span ʼn klompie van die ou senior spelers in ʼn wenkombinasie saamgetrek, laat Hartley weet.

“Die manne erken dat hulle nog aan hul fiksheid moet werk, maar die eenheid van die agttal is besig om mooi te vorm.”

Naas ʼn strafdrie het Eugene Hauptfleisch, Fezeka Dlamini (twee) en Kobus Nel (twee) vir die tweede span gedruk, en Anton Hood het drie keer verdoel.

Hartley sê die jong o.21-trop het uit die staanspoor die toon aangegee met sy sege van 85-7 in ʼn wedstryd wat 20 minute vroeg gestaak is omdat VUT te ver oorskadu is.

Die o.21-afrigter sê sy manne is goed vir die seisoen voorberei, en hy sien uit na die kragmetings teen Sasol en Nigel om hulle na behore te toets.

Johan Margreiters, Lewan van Zyl, Bradin Anderson, Louis Karstens (twee), Conrad Engelbrecht, Pieter van der Walt, Dean Pienaar, Marco Swart (drie), Simon Lotz en Hayden Maree het drieë gedruk, met doelskoppe deur Dylan van Loenen, Van Zyl (twee), Anderson (vier), Swart en Dehan du Plessis.

Voorloper tuimel na vierde plek

♦ In die Kestrelliga het die Buffels van Grootvlei die voortou geneem nadat hulle weldeeglik met 45-15 met die voorloper, Edenpark, afgereken het.

Meyerton se gelykop uitslag teen Oos-Rand Polisie (5-5) en Elsburg se oorwinning van 21-20 oor Vanderbijlpark bring mee dat Edenpark na die vierde plek terugsak.

Gouws Booysen, die voorsitter van die Buffels, sê Edenpark het die Grootvleiers die eerste 20 minute lank vasgehou, maar toe het die wenspan sy eie soort rugby begin speel en uiteindelik ver gewen.

Nathan Richards (regtervleuel) is as die agterspeler van die wedstryd aangewys, en Werner du Plessis (agsteman) as die beste voorspeler.

Drieë is deur Pitso Moloi, Richards, Gerhard Botha (twee), Johnty Shelton, Du Plessis en Gerrie Rautenbach gedruk. Moloi het met vier en Du Plessis met een doelskop geslaag.

Die Buffels se volgende wedstryd is Saterdag teen Delmas op Delmas.

Gerhard van der Watt (stut), Raynard Berry (slot en kaptein) en JC Visagie (stut) van Meyerton sluit by ʼn losskrum teen Oos-Rand Polisie aan. (Foto: Maryké Slabbert)

♦ Anthony Lloyd, die voorsitter van Eurolux Meyerton Knigts United, sê die wedstryd teen Oos-Rand Polisie het met horte en stote verloop.

“Al twee spanne se voorspelers het mekaar gepak, en ʼn mens kon van vroeg af sien dit gaan ʼn titaniese stryd oplewer, en ongeag aanvanklike verwagtinge wedersyds dat dit ʼn wedstryd sou wees waar die bal lug gegee word, wou dit nie vloei nie.”

Lloyd sê die wedstryd het ongelooflik baie hanteerfoute opgelewer, en as dit nie daarvoor was nie, kon albei spanne maklik nog drie-vier drieë elk gedruk het. Albei se skopwerk was ook power, met skoppe van voor die pale wat misluk het.

In die 30 ste minuut het Oos-Rand Polisie ʼn rooikaart vir vuilspel gekry, en moes hy die res van die wedstryd met 14 man speel.

Kobus Bester (losskakel) het Meyerton se drie gedruk.

Ander uitslae –

Merlinliga

Nigel 33, Sasolburg 17.

Kestrelliga

Katlehong Tigers 13, Delmas 12; Edenvale 41, Heidelberg 24.

Opgesomde punteleer –

Kestrelliga

Buffels 15, Meyerton 12, Elsburg 10, Edenpark 10, Oos-Rand Polisie 8, Vanderbijlpark 6, Heidelberg 6, Edenvale Panthers 5, Katlehong Tigers 2, Delmas 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.