Van der Merwe maak geskiedenis in Kanada

Die Suid-Afrikaans gebore DTH van der Merwe het sonder ophef geskiedenis gemaak toe hy onlangs twee drieë teen Amerika in die kwalifiserende ronde van die Wêreldbeker gedruk het.

Van der Merwe, ʼn boorling van Worcester in die Boland, se 25 drieë in 44 toetse is die meeste deur enige Kanadese toetsspeler.

Die vorige rekord van 24 is deur Winston Stanley gehou, wat 66 toetse nodig gehad het om dit te bereik.

Van der Merwe, wat vir dié wedstryd van vleuel af senter toe geskuif is, het na berig word die vonk verskaf wat die Kanadese in staat gestel het om met 28-28 met Amerika gelykop te speel.

Daar is gehoop dat hy dit die afgelope Saterdag weer sou doen, maar hy is kort voor die toets beseer, en Amerika het op die ou end met ʼn rekord van 52-16 gewen.

Van der Merwe hou ook ʼn wêreldrekord wat moeilik verbeter sal kan word. Hy is tot dusver die enigste speler wat dit kon vermag om ʼn drie in elk van die vier groepwedstryde in ʼn Wêreldbekertoernooi te druk. Hy het dit in 2015 reggekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.