Van der Merwe rek rekord vir Kanada

DTH van der Merwe – rekord gerek. (Foto: Ian Muir/Rugby Canada)

Die Suid-Afrikaans-gebore DTH van der Merwe se tweekuns Saterdag teen Uruguay in Montevideo het sy Kanadese drieërekord verder opgeskuif.

Hy het nou 31 drieë in 49 toetse gedruk, nadat die vorige rekordhouer, Winston Stanley, 24 drieë in 66 toetse van 1994 tot 2003 gedruk het.

Uruguay het die wedstryd vir ʼn plek in die eerskomende toernooi om die Wêreldbeker (RWB) met 32-31 gewen, en vorm sodoende saam met Australië, Fidji, Georgië en Japan Groep D vir die toernooi in Japan.

Van der Merwe se tweede drie in die 80ste minuut kon Kanada help om die wedstryd dramaties te wen, maar om ʼn onverklaarbare rede het Shane O’Leary dit met ʼn skepskop probeer verdoel en misgeskop.

♦ Die Suid-Afrikaner Gary Gold se Amerikaanse Arende het hul verdediging van die Amerikas-rugbykampioenskap (ARK) goed weggespring deur hul vernaamste uitdager, die Argentynse Vyftiental, in ʼn spannende stryd in Los Angeles met 17-10 te verslaan.

Dit is die eerste keer dat die Argentyne in dié reeks geklop word. Die twee spanne het egter al twee keer gelykop gespeel: met 35-35 in 2016, en met 27-27 verlede jaar.

Die wedstryd het ewe dramaties as die kragmeting tussen Kanada en Uruguay geeïndig toe die Argentyne die bal in die doodsnikke op die Amerikaanse doellyn aangeslaan het.

♦ Brasilië het vir ʼn eersteklas-verrassing met sy eerste wegsege in die reeks gesorg deur Chili in Santiago naelskraap met 16-14 te klop.

Chili (24ste) is vier plekke hoër as Brasilië (28ste) op die wêreldranglys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.