Van ernstige nekbesering in Loftus-toets tot All Blacks-kaptein

Sam Cane. Foto: Twitter.

Sam Cane is vroeër die week as die All Blacks se nuwe kaptein aangewys. Die 28-jarige flank vervang Kieran Read wat ná verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan uit internasionale rugby getree het.

Die All Blacks het die toernooi in die derde plek afgesluit.

Hoewel sy aanstelling vir ’n paar geligte wenkbroue in Nieu-Seeland gesorg het – baie kenners het gemeen dat Sam Whitelock eerder in Read se kapteinspore moet volg – is Cane so taai soos ’n ratel.

En as ’n nekoperasie in 2018 nie suksesvol was ná hy homself teen die Bokke se Francois Louw op Loftus Versfeld vasgeloop het nie, sou hy moontlik die All Blacks se vordering vanuit ’n rolstoel moes dophou.

Hoewel die All Blacks die kastaiings in daardie toets uit die vuur gekrap het om met 32-30 te wen, was Cane se rugbyloopbaan amper iets van die verlede nadat hy ’n nekfraktuur opgedoen het.

“So ernstig soos wat die besering was, was ek steeds taamlik gelukkig omdat dit baie erger kon gewees het,” het Cane destyds gesê.

“Ek was letterlik ’n paar millimeter daarvan weg om nooit weer rugby te speel nie. Ek is so dankbaar dat ek ’n normale lewe kan lei én boonop weer kan rugby speel.”

Hy het ná sy operasie die mediese personeel in Pretoria bedank.

“Daar is ’n paar dinge waarvoor ek dankbaar kan wees. Eerstens, die dikte en die sterkte van my nek het my beslis beskerm. Tweedens, vir die mediese personeel van wêreldgehalte wat my in Pretoria behandel het; ek kon nie vir beter gevra het nie.”

Cane het weer sy rugbystempel in Nieu-Seeland afgedruk en was deel van Steve Hansen se planne vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2019.

Maar as kaptein het ’n bloedjong Cane destyds die All Blacks in hul 2015-Wêreldbekerkragmeting teen Namibië gelei, terwyl hy saam met Aaron Cruden die Chiefs aangevoer het.

Met die koms van Warren Gatland is Cane egter as die enigste aanvoerder van die Hamiltonse span aangewys.

En die nuwe All Blacks-breier, Ian Foster, het in Gatland se spore gevolg.

Saam met Kieran Read. Foto: Twitter.

“Ons wou dit so gou moontlik bevestig dat Sam die nuwe kaptein van die All Blacks is omdat hy ’n sleutelrol in ons beplanning sal speel. Hy beskik oor die natuurlike vermoë om met almal oor die weg te kom, maar hy kan ook streng wees wanneer dit van hom verwag word,” het Foster gesê.

Cane het sy buiging vir Nieu-Seeland in 2012 gemaak en hy het reeds 68 internasionale toetse agter sy naam.

“Namate ek saam met spelers soos Richie McCaw en Kieran Read gespeel het, het ek nie net as speler gegroei nie, maar ook as leier. Ons weet nie hoe die res van die jaar vir die All Blacks gaan lyk nie, maar ek sien uit daarna om saam met die afrigters en senior spelers te werk,” het Cane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.