Van Graan vrygestel by Bokke, op pad na Munster

Johann van Graan

Johann van Graan, voorspelerafrigter van die Springbokke, is deur SA Rugby van sy kontrak vrygestel en sal Rassie Erasmus as direkteur van afrigting by Munster in Ierland opvolg.

Hy sal egter glo steeds sy taak as voorspelerafrigter tydens die Bokke se toer op die vier opeenvolgende Saterdae vanaf 11 November verrig wanneer hulle teen Ierland, Frankryk, Italië en Wallis sal speel.

Verlede week nog was die Bokafrigter Allister Coetzee besonder ontstoke toe hy  ontken het dat Van Graan na Munster gaan. Maar dit is maar soos dié soort ding werk …

Van Graan, wat internasionaal hoë aansien as voorspelerafrigter geniet,  was die afgelope ses seisoene as voorspelerafrigter by die Springbokke betrokke. Hy is in 2012 voor die toetsseisoen deur Heyneke Meyer betrek, ʼn afrigter met wie hy by die Springbokke en ook by Bulls nou saamgewerk het.

Hy was by die Bulls se afrigtingspan as voorspelerafrigter betrokke toe hulle die Superrugby-titel in 2007, 2009 en 2010 gewen het.

Van Graan en die spanbestuurder Ian Schwartz was die enigste lede van die Springbokafrigtingspan/bestuur wat van Heyneke Meyer se tyd deur Coetzee behou is.

Erasmus, SA Rugby se aangewese direkteur van afrigting wat gesê het dat hy na Suid-Afrika sal terugkeer sodra iemand gevind is om by Munster van hom oor te neem, sal na verwagting nou eers aanstaande jaar by SA Rugby kan inval.

Hy sal eers vir Van Graan by Munster touwys maak, wat waarskynlik na die Springbokke se vier toetse eers sal plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Russl ·

“Have you seen his contract? Has he signed anything? How can it be official?” Coetzee responded angrily.

Wat het geword hiervan? Twee weke terug het AC aangegaan asof dit nie gaan gebeur nie. Hoekom nie net oop kaarte speel nie?

proefvlug ·

Pappa het die deure oopgemaak … en ek verwys nou nie na Pappa van Skollie nie… 1 jaar assistant afrigter by Tuks en die volgende jaar voltyds by die Bulle …

als van die beste ..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.