Van rompe, handtekeninge en ʼn Bybelversie

Waisale Serevi. Foto: Facebook.

Van my kosbaarste besittings as kind was my handtekeningboekie waarin ek rugbyspelers se handtekeninge versamel het.

My grootste skatte was die handtekeninge van Frik du Preez, Mannetjies Roux, Mof Myburgh, Piet Uys en Louis Schmidt, asook Tommy Bedford, al was hy Engels.

Daar was ook handtekeninge van die Britse Leeus, All Blacks en Wallabies, maar met ʼn hele paar oop bladsye tussenin, uit respek vir die Groen-en-goud.

Latere jare het ek so nou en dan ʼn paar verdere handtekeninge bekom, nie meer vir myself nie, maar vir my twee seuns.

Toe Fidji in 1996 in ʼn eenmalige toets teen die Springbokke op Loftus Versfeld gespeel het, het my jongste gevra of ek Waisale Serevi se handtekening vir hom kon kry.

Serevi was, wat my betref, die wêreld se beste sewespeler en elke kind wou ook soos hy systap, met die bal toor.

Die span, wat ook ʼn laaste wedstryd teen Noord-Transvaal gespeel het, het in die destydse Marula Sun-hotel in Mabopane gebly en dit was dus maklik om sy handtekening te kry, veral omdat ek ook ʼn onderhoud met die skaam Serevi beplan het.

Ek het ook ʼn baie mooi aksiefoto van hom in die middag se oefening saamgeneem om die ys te breek.

Nadat hy die foto gesien het, het Serevi sy handtekening met groot oë uitgedeel, ʼn boodskappie aan my seuns geskryf en ook ʼn Bybelversie onderaan geheg, net soos die verwysing na die teksvers wat hy om sy gewrigsbandjies op die veld met die kruisie daarby gedra het.

Hy was so beïndruk (met die foto) dat hy na sy kamer laat spaander het en met een van sy Fidjiaanse rompe as geskenk teruggekeer het.

Ek wou dit eers nie aanvaar nie, maar Johan van Blommenstein, die oud-Junior Springboklosskakel wat die span se SA mediabestuurder was, het vinnig in Afrikaans verduidelik dat dit ʼn klap in sy gesig sou wees om nee te sê.

Die romp was gans te klein, want hy was klein gebou en ek darem al middeljarig met ʼn effense tjoepie om die middellyn.

Jare hierna het die romp en die handtekeningboekie tydens ʼn inbraak voete gekry.

Maar ek sal nooit Waisale Serevi se handtekening en romp (wat dalk nou ʼn karwaslap is) vergeet nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.