Van rugbystadions en nog wat

Ellispark (Foto Youtube).

Een van ʼn kind se blywendste grootoog-oomblikke is sy eerste besoek aan Loftus Versfeld, Ellispark of enige ander groot rugbystadion, of soos hulle deesdae sê, nuwe meerdoelige stadions.

Dalk was jy gelukkig om destyds ná wedstryde saam met honderde ander kinders op die veld te storm om aan jou geswete helde te raak, dalk ʼn handtekening op enige denkbare stukkie papier of program te kry.

Jy het die aand opgewonde aan jou pa-hulle vertel wat oom Frik gesê het toe hy sy handtekening uitgedeel het. Jy kon tussen ander legendes soos Mannetjies Roux, Mof Myburgh en Piet Uys ronddwaal.

Die ou afgematte hoofpawiljoen met die oorhangende donker dak het ʼn blywende indruk gemaak, die persbank in die middel en die ou hoenderstellasies in die oop pawiljoene, die staanplekke voor die noordelike en suidelike pawiljoene.

Jy onthou nog toe die ou Loftus in 1977 plek moes maak vir die nuwe Loftus, hoe die laaste hoofstuk geskryf is, hoe die kolfblad in die middel plek moes maak.

Wanneer jy Ellispark besoek het, het jy jou vergaap aan die ou glaskas, aan die Quinn’s-bakkery wat agter die pale uitgetroon het.

Dit was lank voor jou tyd, maar jy kon aanvoel hoe teleurgesteld Jack van der Schyff moes gewees het toe hy in 1955 die laaste doelskop teen die Britse Leeus voor 95 000 toeskouers misgeskop het.

Die Bokke het verloor en ʼn kop onderstebo Van der Schyff het nooit weer vir Suid-Afrika gespeel het nie.

Julle het na alle waarskynlikheid met die trein deurgery van Pretoria af, wat op wedstryddae op die Ellispark-stasie gestop het.

Die trein was volgepak met rugbyondersteuners en al waaroor hulle gepraat het, was rugby.

Die flesse koffie, nartjies en dalk ʼn piekniekmandjie.

Nuweland-stadion (Argieffoto).

Jy sal jou eerste besoek aan Nuweland aan die hange van Tafelberg nooit vergeet nie; jy sou jou nooit kon indink dat dié “moderne” stadion in 2020 sy laaste asem sou uitblaas om plek vir eiendomsontwikkeling te maak nie.

Die ou Vrystaat-stadion met sy sement fietsry- en atletiekbaan sal jou altyd bybly. Al wat jy kan onthou, is hoe die Vrystaat die bal rondgegooi het en hoe koud dit was.

In Durban het jy straks kennis gemaak met die ou Kingspark-stadion tydens een van die nasionale klubtoernooie, wat gewoonlik oor die Paasnaweek beslis.

Die ou Pam Brink-stadion in Springs, die winderige Boet Erasmus in die Baai, De Beers in Kimberley, Olënpark in Potchefstroom, Groblerpark in Bethlehem, die Noordwes-stadion in Welkom, stadion Boland in Wellington en die Johann van Riebeeck-stadion in Witbank.

Nou is die meeste van hulle net herinneringe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mauritz ·

Pieter, jy jaat my vér terug dink met ‘n traan in my 76-jarige oog.

Scalla ·

Presiese beskrywing, my eerste een was in 1976 in Bloemfontein, sitplekke op oop pawiljoen was van asbes en hoog, of ek was seker klein, onderskep wen drie in laaste minuut deur noord tvl teen vrystaat, onthou tot vandag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.