Van skaaf- en brandplekke weet ons alles

Een van enige rugbyspeler se grootste nagmerries is wanneer hy by die teenstanders se veld aankom.

Hoe lyk die speeloppervlak, die toestand van die veld, veral wanneer jy nie jou kniebeskermers by die huis vergeet het?

Jy soek en soek, jy skud jou toksak om en uit, maar al wat uitval is jou tokse en trui, kouse, ʼn handdoek en ʼn koekie seep, ʼn botteltjie Vaseline  en Van skaaf- en brandplekke weet ons alles buisie Deep Heat.

Dit help nie jy vra ʼn spanmaat of jy syne kan leen nie, dis lankal om sy knieë.

Jy weet wat wag, ernstige skaaf- en brandplekke, ‘grass burns’ het ons dit genoem. Ek weet nie hoekom die woord gras daarin voorkom nie, want op die klipharde, droë velde was daar soms nie ʼn sweempie gras nie. Boonop was daar ʼn klipharde kolfblad in die middel van die veld, wat op losskakel gewag het wat die bal moes afskop.

Op sommige buitevelde het die duwweltjies gefloreer, ander het vir jou soos die Sahara-woestyn gelyk.

Wanneer jy vir die o.13- of 0.14 C-span gespeel het, was jy vroegoggend op die buiteveld, daar waar ʼn yslagie en dou jou vierkant in die oë gekyk het.

In die Wes- of Suid-Kaap was dit die ander kant van die spektrum. Welige groen velde wat maande laas ʼn grassnyer gesien het. Toe dit nog in die Kaap gereën het, het die velde binne ʼn japtrap in ʼn modderbad verander. Sommiges, soos die ou Nuweland, is ʼn deur die besoekende spanne die ‘koolplaas’ gedoop, want van goeie dreinering was daar nie sprake nie.

Die slim manne oorsee het die oplossing vir die probleem gevind … of altans so het hulle gedink.

Al hoe meer klubs spog deesdae met ʼn sintetiese veld, maar dan moet jy die oppervlak natgooi.

Die Methyr-klub het Sondag in die halfeindronde van die nasionale bekertoernooi in Wallis teen Pontrypridd gespeel.

Die sintetiese veld, wat verlede jaar in September aangelê is en byna R7 miljoen gekos het, is nie natgegooi nie en sewe spelers van Methyr het ernstige skaafwonde opgedoen.

Die afrigter weet nie of hul wonde en skaafplekke voor Saterdag se tweede  kragmeting sal herstel nie.

En Pontrypridd?

Hulle het gesorg dat hul kniebeskermers en kousbroeke ingepak was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.