Van Straaten stuur ‘Care 4 Kings’-inisiatief van stapel

Foto: Twitter.

Braam van Straaten en ander belanghebbendes, onder wie Robbi Kempson en Cassie Carstens, het die Care 4 Kings-inisiatief van stapel gestuur om die spelers en personeel van die voormalige Southern Kings-rugbyfranchise finansieel by te staan.

Die gewese Springbok-losskakel was deel van die Oos-Kaapse span se afrigterskorps wat verlede maand saam met gekontrakteerde spelers en ander werknemers in kennis gestel is dat daar besluit is om die franchise te likwideer.

“Die spelers en werknemers is letterlik ’n paar dae vóór betaaldag laat weet dat geen salarisbetalings aan hulle gemaak sal word nie. Intussen is die groep in die rugbywoestyn gelaat met geen heenkome nie – 52 spelers en personeellede word hierdeur geraak,” het Van Straaten gesê.

Hoewel unies soos die Sharks ’n reddingsboei na spelers soos Yaw Penxe en Thembelani Bholi gegooi het, is daar steeds spelers wat met ’n baie onsekere toekoms wroeg.

Die skrumskakel Cameron Wright het onder meer in die media gesê dat hy noodgedwonge sy huis moes verkoop om kop bo water te hou.

Care 4 Kings se eerste geldinsamelingsprojek sal op 16 en 17 Oktober aanlyn plaasvind waartydens sportmemorabilia opgeveil sal word.

“Voormalige en huidige spelers gaan items tot die veiling bydra en dit sal interessant wees om te sien wat alles beskikbaar sal wees,” het Van Straaten gesê.

Twee verdere projekte word ook beplan.

Meer inligting is op die Care 4 Kings se Facebook-blad beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Waarom probeer julle nog die Kings red? Hulle ontstaan het ‘n politieke ondertoon, waarna hulle deur politiek kunsmatig aan die lewe gehou is totdat dit weens politiek ten gronde gegaan het. Hulle het weens politieke inmenging ander beter spanne uit reekse gehou totdat hulle bewys het hulle is nie goed genoeg nie. Kan julle nou nog nie insien dat politiek gedrewe sportspanne nie werk nie?

Dup ·

Ek stem saam,skakel die masjiene af en sit sommer die spreiligte ook af.Laat sak die gordyn op die einde van n era.Die nuwe stadion sal n goeie begraafplaas maak;of miskien weiding vir die beeste en bokke wat tans in die strate rondwei op soek na kos.

Opdiemanaf ·

Laat die klomp Watsons wat op die Springboktrui wou kots, julle help!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.