Van Varsitybeker na die toetsarena

Ruben de Haas (Foto: Verskaf)

Minder as twee weke gelede was hy nog in die reeks om die Varsitybeker in aksie, Saterdag is hy in die internasionale arena op die bank, en sal hy na alle waarskynlikheid sy toetsbuiging maak.

Dis die verhaal van Ruben de Haas, wat onlangs nog die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in die Varsitybekerreeks verteenwoordig het, en nou in die 23-tal van die Amerikaanse Arende ingesluit is wat teen Chili in die Amerikas-rugbykampioenskap speel.

De Haas, ʼn skrumskakel wat aan die Cheetahs se rugbyakademie verbonde is, het Amerika reeds op o.17-, o.18- (as kaptein), o.19- (as onderkaptein) en o.20-vlak verteenwoordig. Hy het ook al vir die “USA Selects”, die land se naasbestes, gespeel.

Die jongeling is die seun van Pieter de Haas en kleinseun van Gerard de Haas, wat albei Curriebekerrugby in Suid-Afrika gespeel het.

Gerard het in die laat jare sestig van die vorige eeu bitter na aan die Springbokspan gekom, en Pieter het in die jare tagtig en negentig vir spanne soos die SA Skole, SA o.20, die SA Barbarians en die SA Universiteite gespeel.

Laasgenoemde het in 2009 met sy gesin na Arkansas verhuis, waar hy as die grondlegger van rugby in dié deelstaat beskou word.

As hy speel, sal die jongste De Haas die derde Suid-Afrikaans gebore skrumskakel wees wat in die jongste tyd vir Amerika speel.

Niku Kruger, seun van die bekende akteur Ben Kruger, het van 2015 tot 2016 in ses toetse gespeel, en Shaun Davies van 2012 tot vanjaar in 14.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.