Coenie van Wyk en Shane Gates is hoog op die lysie Suid-Afrikaners wat die aandag in die jongste ronde van die Japanse Topliga getrek het.
Van Wyk (losskakel), wat Superrugby vir die Lions en die Cheetahs gespeel het, het tien punte vir Toshiba Fuchu Brave Lupus teen Munakata Sanix Blues aangeteken.
Dit het uit ʼn drie, ʼn doelskop en ʼn strafdoel bestaan, en die Brave Lupus het met 34-20 gewen.
Gates (buitesenter), ʼn gewese Kings-speler, het twee drieë vir NTT Shining Arcs in sy sege van 76-7 oor Coca Cola West Red Sparks behaal.
Die Springbok Riaan Viljoen (heelagter) het nege punte – drie doelskoppe en ʼn strafdoel – vir NTT Docomo Red Hurricanes teen Canon Eagles op die telbord geplaas.
Jurgen Visser (sy plaasvervanger), ʼn gewese Bulls- en Kings-speler, het ʼn doelskop bygevoeg, en die Hurricanes het met 36-14 gewen.
Suid-Afrika se A-losskakel Francois Brummer het ʼn strafdoel vir die verloorspan behaal in Toyota Verblitz se oorwinning van 33-24 oor Toyota Shokki Shuttle.