Vanjaar se Virsekerbeker ook afgelas

Die watertand-herontmoeting tussen Menlopark en Helpmekaar se eersterugbyspanne sal vir eers moet wag. Die Pretorianers het verlede jaar vir Helpmekaar in die eindstryd van die Virsekerbeker se Bekerafdeling met 44-17 geklop en hulle sou vanjaar weer vroeg in die reeks slaags geraak het.

Virseker en die bestuur van die Noordvaal Hoërskole-rugbyvereniging het egter ná deeglike oorweging besluit om alle wedstryde van 2020 se Virsekerbeker-rugbytoernooi af te las.

Die besluit is geneem in die lig van die Covid-19-pandemie, die gepaardgaande maatreëls, die uitwerking op skole se werkslading, asook die finansiële implikasies daarvan.

“Die Virsekerbeker is Suid-Afrika se oudste skolerugbytoernooi en vier vanjaar sy honderdste bestaansjaar. Hierdie spesiale mylpaal het ons besluit baie moeilik gemaak, maar ons moet die  betrokke leerders se veiligheid en akademiese verpligtinge, asook die veiligheid van ondersteuners eerste stel,” het Virseker se Neil van der Walt gesê.

“Hoewel platforms soos die SOS Wolkskool, wat deur die Virseker-trust ondersteun word, leerders help om op datum te bly, verkeer hulle saam met skoolpersoneel steeds onder geweldige druk. Virseker staan steeds bankvas agter skolerugby en die ontwikkeling van uitblinktalent en ons kyk reeds vorentoe na 2021.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.