Varsity-droomspan vs Junior Bokke: meer op die spel as bloot feesrugby

Die skrumskakelstryd tussen die Varsitybeker-droomspan se André Warner (foto) en Embrose Papier van die Junior Bokke kan ‘n hoogtepunt wees. (Foto: Christiaan Kotze/Saspa)

Jy kan jouself maklik flous met die aanname dat Dinsdagaand se wedstryd tussen die Varsitybeker-droomspan en die Junior Springbokke in Stellenbosch bloot feesrugby is.

Allesbehalwe. Daar is net eenvoudig te veel op die spel. Vir die Junior Bokke se afrigter, Chean Roux, is dit een van sy laaste kanse om te besluit wie sy eerstekeusespelers is voordat die o.20-Wêreldtoernooi oor bietjie meer as ’n maand in Georgië begin.

Verwag dus dat spelers soos die heelagter Gianni Lombard en die vleuel Wandisile Simelane, wat albei vanjaar vir Wits in die Varsitybeker uitgedraf het, met blink vertonings Roux sal wil oortuig dat hulle onder die uitverkorenes moet wees.

Daarby sal Zain Davids, wat die Junior Bokke aanvoer en ook onlangs ’n Blitsbok geword het, wil wys dat hy oor die nodige leierseienskappe beskik om die span in Georgië aan te voer.

Dit is te verwagte dat die samespel van die Varsitybeker-droomspan, wat skaars ’n week tyd gehad het om mekaar op die oefenveld te leer ken, sal lol.

Maar die skakelpaar Tinus de Beer en ook die binnesenter Impi Visser, is vertroud met mekaar. Hulle kan die grondslag vir vlugvoetige spelers soos die buitesenter Aphiwe Dyantyi en die agterste driehoek Sibahle Maxwane, Duncan Saal en Craig Barry lê om die toeskouers met ’n drieëfees te vermaak.

De Beer kan met ’n blink vertoning wys dat die Bulls nie verder na ’n opvolger hoef te soek vir Tian Schoeman, wat glo sy loopbaan binnekort oorsee voortsit, en Handré Pollard, wat geruime tyd op die krukkelys gaan wees nie.

Verwag ook ’n intense tweestryd op skrumskakel tussen Warner en die Junior Bok Embrose Papier. Papier moes die grootste gedeelte van die Varsitybeker-seisoen die plaasvervangersbank warm hou met Warner wat die Tukkies se eerstekeuse was.

Die poppe kan voorlangs dans waar die twee Shimlas-flanke, Daniël Maartens en Phumzile Maqondwana, wat albei daarvan hou om met die bal te hardloop en saam met die Madibaz se Kevin Kaba die lostrio vorm, hul direkte teenstanders, Davids, Muller Uys en Len Massyn, harde bene kan laat kou.

Andrew Beerwinkel, loskopstut van die Droomspan, wat soos ’n agterspeler met die bal hardloop, het nog nie vanjaar sy gelyke in die skrums teëgekom nie. Sy tweestryd met die Junior Bokke se Carlű Sadie sal dus met fyn oë dopgehou word.

Spanne –

Varsitybeker-droomspan: 15. Craig Barry (Maties, kapt.), 14. Sibahle Maxwane (Tuks), 13. Aphiwe Dyantyi (UJ), 12. Impi Visser (Tuks), 11. Duncan Saal (Maties), 10. Tinus de Beer (Tuks), 9. André Warner (Tuks), 8. Kevin Kaba (Madibaz), 7. Phumzile Maqondwana (Shimlas), 6. Daniël Maartens (Shimlas), 5. Loftus Morrison (Pukke), 4. Aston Fortuin (Tuks), 3. Nico du Plessis (UJ), 2. Wilmar Arnoldi (Pukke), 1. Andrew Beerwinkel (Tuks). Bank: 16. Johannes Snyman (UJ), 17. Luvuyo Pupuma (Wits), 18. Dillon Roy Bakos (UJ), 19. Johan Momsen (Maties), 20. Chris Massyn (Tuks), 21. Herchele Jantjes (UWK), 22. Ernst Stapelberg (Maties), 23. Michal Haznar (Maties).

Junior Springbokke: 15. Gianni Lombard (Goue Leeus), 14. Manie Libbok (Blou Bulle) 13. Stedman Gans (Blou Bulle), 12. Wayne van der Bank (Goue Leeus), 11. Wandisile Simelane (Goue Leeus), 10. Damian Willemse (WP), 9. Embrose Papier (Blou Bulle), 8. Len Massyn (Goue Leeus), 7. Muller Uys (WP), 6. Zain Davids (WP, kapt.), 5. Ruben van Heerden (Blou Bulle), 4. Salmaan Moerat (WP), 3.Carlű Sadie (WP), 2. Johan Grobbelaar (Blou Bulle), 1. Kwenzo Blose (Cheetahs). Bank: 16. PJ Botha (Goue Leeus), 17. Gerhard Steenekamp (Blou Bulle), 18. Wikus Groenewald (WP), 19. Hendré Stassen (Blou Bulle), 20. Nama Xaba (WP), 21. Hacjivah Dayimani (Goue Leeus), 22. Rewan Kruger (Cheetahs), 23. Jean-Luc Cilliers (Goue Leeus).

Afskop: 19:00 (Regstreeks op SuperSport)

           

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.