Varsitybeker: dis bul teen bul en die verlede tel nie

Mitchell Carstens is lid van die Maties-lostrio wat Tukkies kan laat sweet. (Foto: Frikkie Kapp/Saspa)

Wanneer Tuks en die Maties Maandagaand in Pretoria op die veld draf in die eindstryd van die Varsitybeker, sal dit wat die seisoen gebeur het, nie saak maak nie.

Nie die feit dat Tukkies die Maties in Januarie ore aangesit of die vele aantal drieë wat albei spanne die seisoen gedruk het sal meer tel nie, met nie een wat homself vooraf die reg kan toe-eien om die gunsteling te wees nie.

Want hierdie stryd is ’n eindstryd. Dit is ’n drukkokersituasie, waar die individuele briljantheid van een speler die tuiste van die Varsitybeker kan bepaal.

En dáárvan het albei spanne meer as genoeg. Die besoekers spog agterlangs met drieëvrate soos die vleuels Craig Barry en Kyle Steyn, terwyl die senter Michal Haznar iemand is wat gapings kan vind.

Die Pretorianers het op hulle beurt spelers soos die senter Divan Rossouw, wat gewoonlik heelagter speel, tesame met die opwindende Manie Libbok wat Maandag die laaste vesting beman, wat gereeld vir hulle teenstanders hakskene wys.

Hulle sou die afgelope week in Stellenbosch planne beraam het om die onervare middelveldkombinasie van Tukkies, Rossouw en Joshua Stander, te teiken.

Maar die Pretorianers se losskakel, Tinus de Beer, word nie verniet as die voorste balverspreider en planmaker in vanjaar se reeks beskou nie. Moenie verbaas wees as Libbok in die middelveld opduik om só die besoekers onkant te betrap nie.

Die stryd tussen die losvoorspelers kan maklik die hoogtepunt van die kragmeting wees, dié tussen die tuisspan se Clyde Davids, Chris Massyn en Marco van Staden en die Stellenbossers se Devon Nash, Kobus van Dyk en Mitchell Carstens.

Vir Hawies Fourie, breier van die Maties, is ’n wen ononderhandelbaar nadat sy span verlede jaar in die eindstryd teen die Pukke vasgeval het.

In sy vierde seisoen aan die stuur van sake by Tukkies, sal niks die afrigter Pote Human meer genot verskaf as die belangrikste titel in studenterugby nie.

Spanne –

Tuks: 15. Manie Libbok, 14. Dewald Naude, 13. Divan Rossouw, 12. Joshua Stander, 11. Sibahle Maxwane, 10. Tinus de Beer, 9. André Warner, 8. Clyde Davids, 7. Chris Massyn (kapt.), 6. Marco van Staden, 5. Ashton Fortuin, 4. Brian Leitch, 3. Johan Fouche, 2. Corniel Els, 1. Andrew Beerwinkel. Bank: 16. Jan-Henning Campher, 17. Jaco Holtzhauzen, 18. Tobie Verwey, 19. Eduan Lubbe, 20. Theo Maree, 21. Toko Maebane, 22. Keanan van Wyk, 23. Franco van den Berg.
Maties: 15. Tiaan Swanepoel, 14. Kyle Steyn, 13. Michal Haznar, 12. Chris Smit, 11. Craig Barry (kapt.), 10. Ernst Stapelberg, 9. Brendon Nell, 8. Devon Nash, 7. Kobus van Dyk, 6. Mitchell Carstens, 5. Johan Momsen, 4. Ian Groenewald, 3. Niel Oelofse, 2. Craig Corbett, 1. Wesley Adonis. Bank: 16. Hendrik Luus, 17. Ricky Nwagbara, 18. Wikus Groenewald, 19. Ruben de Villiers, 20. Stephan Streicher, 21. Remu Malan, 22. Christopher Smith, 23. Duncan Saal.

Afskop: 19:00 (Regstreeks op SuperSport)

♦  In die voorwedstryd kom Huis Abraham Fischer (Vishuis), van die Universiteit van die Vrystaat, teen Patria van die NWU-Pukke in die eindstryd van die Varsitykoshuis-reeks te staan.

Die twee spanne het ook verlede jaar in die eindstryd teen mekaar gespeel.

Patria se laaste titel was in 2011 toe hulle teen die Universiteit Stellenbosch se Simonsberg geseëvier het, terwyl Vishuis Maandagmiddag op sy vyfde titel sal jag maak.

Spanne –

Vishuis: 15. AJ Brits, 14. Ruan Janse van Rensburg, 13. Wian van der Watt, 12. SW van Wyk, 11. Thato Mei, 10. Dale de Wet, 9. Derick Minnie, 8. Frank Ferreira, 7. Christiaan Swanepoel, 6. Nelius van Heerden, 5. Stephen Botha (kapt.), 4. Charl du Toit, 3. Stefa Burger, 2. Roelof Strauss, 1. Louis-Martin Cloete. Bank: 16. Petrus Nienaber, 17. Steph Brits, 18. Dirk Swanepoel, 19. Rholane Ncubaka, 20. Henco Meyers,  21. Dean Bubb, 22. Mario Vieira,  23. Morné van Staden.
Patria: 15. Lodewyk Kleynhans, 14. Frans Janse van Nieuwenhuizen, 13. Wilbri Gunter, 12. Brendan du Plessis, 11. JJ van Huyssteen, 10. GM Bruwer, 9. Garann Kriek, 8. Hendrik du Plessis (kapt.), 7. Stefan Bergh, 6. Awie Engelbrecht, 5. Christopher Durow, 4. Mauritz Bezuidenhout, 3. Marthinus de Villiers, 2. Ruan Groenewald, 1. Almeru van Wyk. Bank: 16. Jan Senekal, 17. Jan-Hendrik Muller, 18. Louis Winter, 19. Elric Pretorius, 20. Cornelius Muller, 21. Adriaan Labuschagne, 22. Maghiel le Roux, 23. Armando van Wyk.

Afskop: 16:45 (Regstreeks op SuperSport)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.