Varsitybeker: dit raak ’n naelbyt-affêre

Nyasha Tarusenga, agsteman van Wits beur teen die verdediging van André Warner, Eduan Lubbe en Clyde Davids (Foto: GB Jordaan)

Nyasha Tarusenga, agsteman van Wits beur teen die verdediging van André Warner, Eduan Lubbe en Clyde Davids (Foto: GB Jordaan)

Die Maties, Tuks en die UJ is verseker van plekke in die halfeindronde van die Varsitybeker-reeks, maar die Shimlas en die Pukke staan albei nog ’n kans om die uitspeelronde te haal.

Tuks veg terug na vroeë agterstand

In Pretoria moes een van die vroeë gunstelinge om die kroon vanjaar te dra, Tuks, regruk en spook om ’n begeesterde Ikeys te klop.

Tukkies het hulle eerste drie eers in die 34ste minuut gedruk nadat die Kapenaars vroeg met 23-0 voorgeloop het. Tuks het toe vasgebyt en goeie rugby begin speel om met 51-23 te wen.

Mike Henning van Ikeys stuur sy agterlyn weg (Foto GB Jordaan)

Mike Henning van Ikeys stuur sy agterlyn weg (Foto GB Jordaan)

Met die rustydtelling 23-12 in die Kapenaars se guns, sou hulle dalk nog geglo het hulle het ’n kans om die wedstryd te beklink.

Maar in die tweede helfte het die Pretorianers gewys hoekom hulle sterk aanspraakmakers op die titel is, toe hulle telkens wanneer hulle die bal die werk laat doen het, gaan druk het.

Sibahle Maxwane, linkervleuel van Tuks, het juis met sy vaartversnelling beïndruk en is met twee drieë beloon.

Maar Ikeys was beslis nie kanonvoer nie. Hulle agsteman Nyasha Tarusenga het waarskynlik die mooiste drie vanjaar gedruk toe hy ’n skop van sy losskakel Rob Anderson uit die lug gepluk en oorgeduik het.

Tuks bevind hulle boaan die punteleer met 29 punte, dieselfde as die Maties maar met ʼn veel beter punteverskil.

Puntemakers –

Tuks (12) 51: Drieë: Andre Warner, Sibahle Maxwane, Maxwane (*) Toko Maebane, strafdrie 2 (outomaties sewe punte, geen doelskoppoging), Tinus de Beer (*). Doelskoppe: De Beer 3.
Ikeys (23) 23:
Drieë: Cuan Hablutzel 2, Nyasha Tarusenga (*). Doelskoppe: Lohan Lubbe 3.
(*) Sewepuntdrie.

andre-warner-drukUJ bespreek plek in halfeindronde

Naelbyt. Daar is nie ’n ander woord om die kragmeting tussen die Johannesburgse buurmanne, die UJ en Wits, te beskryf nie.

Die uitslag was tot diep in beseringstyd nog in die weegskaal, maar op die ou einde het die UJ geklou aan hulle voorsprong en met 28-23 geseëvier.

Toe die eindfluitjie geblaas het, was Wits op die aanval en besig om meter vir meter veld nader aan die UJ se doellyn te kom. Maar toe maak hulle ’n hanteerfout.

Wits se voorspelers het die oorhand gehad en al drie hulle drieë is van rolmaalbewegings af gedruk.

Maar die grondslag vir die UJ se oorwinning is deur rotsvaste verdediging gelê. Hulle het spelers soos die Witsies se heelagter Gianni Lombard net eenvoudig geen ruimte gegee nie.

Johannes Snyman, kaptein van UJ, sit op loop (Foto Saspa)

Johannes Snyman, kaptein van UJ, sit op loop (Foto Saspa)

UJ se kaptein, die haker Johannes Snyman, die flank Wian Conradie en die agsteman Jo-Hanco de Villiers het beïndruk met die manier wat hulle meters veld met die bal in hand gewen het.

Die gewoonlik betroubare skopvoet van Warren Gilbert, losskakel en kaptein van Wits, het drie skoppe na die pale skeefgetrek.

Aphiwe Dyanti, buitesenter van die UJ, het sy verwagte tweestryd met Wits se Wandisile Simelane loshande gewen. Hoewel Dyanti ’n hanteerfout of wat gemaak het, was dit opmerklik dat hy oral opgeduik het.

Wits het drie geelkaarte in die tweede helfte op die lyf geloop weens onnodige oortredings soos hoogvatte, wat sake vir hulle bemoeilik het nadat hulle rustyd nog gelyk getrek het en miskien ʼn rapsie beter as UJ vertoon het.

Met die oorwinning het UJ hulle plek in die halfeindronde bespreek. Hulle kom egter volgende Maandag teen die Maties in Stellenbosch te staan. Stap hulle daar met ’n oorwinning weg, is ’n tuishalfeindstryd hulle beskore.

Puntemakers –

UJ (18) 28: Drieë: Jo-Hanco de Villiers, Jaco Fourie, Adrian Bester. Doelskoppe: Divan Nel 2. Strafdoele: Nel 3.
Wits (18) 23: Drieë: CJ Conradie, Ruan Cloete, Graham Logan. Doelskoppe: Warren Gilbert. Strafdoele: Gilbert 2.

Shimlas los deur vir die Pukke op ’n skrefie oop

Die Shimlas se onvermoë Maandagaand om ’n bonuspunt Maandagaand teen die Madibaz in Bloemfontein in te samel, het die verdedigende kampioen, die Pukke, ’n buitekans gegee om die halfeindronde van die kompetisie te haal.

Die Bloemfonteiners het drie drieë in hul 23-7 oorwinning gedruk in wat hulle laaste groepwedstryd was.

Slaag die Pukke volgende week daarin om die Tukkies op die Fanie du Toit-sportterrein in Potchefstroom met ’n bonuspunt te wen, sal hulle en Shimlas albei op 23 punte eindig.

Aangesien die Pukke ’n beter punteverskil het, sal hulle egter dan tot die uitspeelronde deurdring.

Puntemakers –

Shimlas (14) 23: Drieë: Marco Mason (*), Gladman Maqina, Charl Naudé (*). Doelskoppe: Mason 2.
Madibaz (7) 7: Drieë: Andile Jho (*).
(*) Sewepuntdrie.

Maties stoom voort

Die Ixias, steeds segeloos, het drie drieë in die tien laaste minute van hulle wedstryd teen die Maties gedruk, maar kon steeds nie genoeg doen om te wen nie.

Die Stellenbossers het nege drieë gedruk om met 73-44 te seëvier.

Hul kaptein en regtervleuel, Craig Barry, het vier keer agter die doellyn gaan kuier.

Die Maties en Tuks het albei 29 ligapunte, maar die Stellenbossers is in die tweede plek as gevolg van ’n swakker punteverskil.

Puntemakers –

Ixias (16) 44: Drieë: Ruben Heymans, Brendan Verster, Ndakisa Olwetu (*), Henco Smit, Stefan Kruger. Doelskoppe: Martin Jacobs 4. Strafdoele: Martin Jacobs 3.
Maties (43) 73: Drieë: Edwil van der Merwe 2 (*), Craig Barry, Barry 3 (*), Johan Momsen (*), Mitchell Carstens, Iver Aanhuizen (*) Doelskoppe: Tiaan Swanepoel 6, Ernst Stapelberg.
(*) Sewepuntdrie.

PUNTESTAND

Klik op die skakel http://rugby.maroelamedia.co.za/varsitybeker-2017/  vir die huidige puntestand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.