Ondanks die gewone skitterspel, was Maandagaand se vier wedstryde nie ʼn goeie advertensie vir Varsitybekerrugby was nie.
Daarvoor het die eensydigheid van die vier oorwinnings gesorg.
UP-Tuks was ná 72 minute nog met 3-40 teen die NWU-Pukke agter; die Maties het die Ikeys eers ná 53 minute toegelaat om hul eerste punte aan te teken en was veral voorlangs in totale beheer van die wedstryd; Wits het op ʼn drafstap met die Ixias afgereken; en die Madibaz het groot slae teen die Shimlas slae gekry.
In al vier hierdie wedstryde was daar opvallende vaardigheidleemtes. Noem dit maar op: swak hantering, swak opsies, swak ondersteuning, powere verdediging …
Wat is fout by die Tukkies? Selfs in hierdie kompetisie, waar spelers van die een jaar ná die ander kom en gaan, is vanjaar se vyf uit vyf-neerlae en veral die gehalte spel nie aanvaarbaar nie.
Hulle is immers die verdedigende kampioenspan en die tweede grootste rugbyklub in Suid-Afrika.
Is dit maar een van dáárdie jare? Is daar werklik uit die sowat duisend rugbyspelers nie die talent nie? Is dit leierskap? Miskien afrigting? Ingesteldheid?
Wie sal weet …
♦ Die Tukkies was agt minute voor die eindtoeter nog baie bedeesd. Maar toe, in die laaste agt minute omskep hulle die verleentheid van 3-40 in ʼn neerlaag van net 26-40 op die telbord. Maar toe was die Pukke se voet al lankal van die pedaal af.
♦ Die Maties, steeds onoorwonne, was heelwat beter as die Ikeys wat hul eerste punte eers ná 53 minute met ʼn drie aangeteken het en ʼn kwartier later weer gaan druk het. Die Maties was weer goed, en het voorlangs en spesifiek in die skrums, die Kaapstadse studente flou gespeel en met 33-14 gewen.
♦ UJ het voortgegaan op die trant waarmee hulle verlede week die Shimlas stukkend gespeel het. Hulle het tuis nege drieë teen die Madibaz gaan druk, vier voor en vyf ná rustyd, en het met 69-8 gewen.
♦ Wits, nie op hulle beste nie, was nietemin goed genoeg om met 52-18 teen die Ixias in Bloemfontein te wen. Hulle het ses keer, vyf vanuit hul eie helfte vir sewe punte, teenoor die Ixias se twee drieë gedruk.
Tuks het baie talent in elke posisie maar is nie ‘n goed afgerigte span nie. Individueel kan elkeen by sy teenstander kers vashou maar as span kom hulle nie die mas op nie. Die probleem is afrigting.
Hoeveel keer gaan die Pukke se truie nog verander?