Varsitybeker: Drie halfeindspanne uit Leeus se klubliga

Dit gaan tot dusver nie so goed soos verwag is met die Lions-franchise in die Superreeks nie, maar op die ander vlakke het die Varsitybekerreeks verdere sukses en waarde tot die Goue Leeus Rugby-unie toegevoeg.

Drie van die vier halfeindfinaliste wat Maandagaand sake uitspook, speel in die GLRU se Pirates Grootuitdaagreeks.

Die NWU-Pukke het saam met UJ, die huidige kampioen in die reeks om die Pirates Grootuitdaagbeker, en dié se buurman Wits, onderskeidelik tweede, derde en vierde in die elfde Varsitybekerreeks geëindig.

Die Pukke? sal mense seker vra. Ja, hulle is wel amptelik ʼn Luiperdsklub.

Omdat daar vir die baie en sterk spanne van die studente egter nie genoegsame kompetisie in hul eie bond is nie, speel hulle al jare lank hul klubrugby in die GLRU-ligas.

Hulle het trouens die Piratesliga sedert 2002 al sewe keer gewen: van 2002 tot 2006 en weer in 2008-’09. UJ het met verlede jaar se oorwinning teen die Pukke in die eindstryd hul oorwinnings na agt sedert 2002 opgeskuif.

Die Pukke het al in vier van die tien Varsitybeker-eindstryde gespeel (2009, 2014, 2015 en 2016) en het in 2016 die reeks gewen. Hulle was ook al in drie verloor-halfeindwedstryde. UJ was in vier verloor-halfeindwedstryde, waarvan die een verlede jaar teen die Shimlas was.

♦  Vir die ander aanspraakmakers in die Pirates Grootuitdaagreeks, soos onder meer Raiders en Pirates, is daar die slegte nuus dat die drie studentespanne vir hierdie liga boonop met ouer manne versterk sal word wat nie aan die studentereeks se ouderdomsbeperkinge voldoen het nie.

Die rede vir die Leeusspanne se sukses, sê Pieter Visser, hoofbestuurder by die GLRU, is die streng reëls waaraan klubs moet voldoen.

“Ons het nie so baie klubs soos van die ander voorste unies nie, maar ons dring daarop aan dat ʼn klub in die Piratesreeks elke week drie senior spanne en ook twee junior spanne, o.19 en 0.21, in die veld moet stoot. Dit geld ook vir die reeks se B-liga vanwaar spanne kan promoveer.”

Die Leeus het geen klubs wat uit net ʼn enkele span bestaan nie. Hulle is ook baie streng deur op álle vlakke spanne wat nie hulle bepalings nakom nie, met swaar boetes op die punteleer te straf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.