Varsitybeker-eindstryd: beseringspook loop

Chris Massyn, Tukkies se kaptein, is fiks verklaar vir Maandag se stryd. (Foto: Saspa)

Die beseringspook het op die vooraand van Maandagaand se Varsitybeker-eindstryd op die LC de Villiers-stadion ’n draai in Stellenbosch én Pretoria gemaak.

Tukkies se staatmakersenter, Impi Visser, wat saam met Toko Maebane vanjaar in die middelveld geskitter het, het las van ’n wangbesering wat hy in die halfeindronde teen Shimlas opgedoen het.

“Ek het ’n been in my wang gekraak en hoewel ek baie graag in die eindstryd wil speel, het ek en coach Pote (Human, afrigter van Tukkies), besluit dat dit nie wys sal wees nie,” het ’n teleurgestelde Visser aan Pale Toe! gesê.

Die verwagting is dat Joshua Stander, wat ewe tuis op losskakel as senter is, Visser se plek sal inneem.

Daar is darem ook goeie nuus vir Human en sy afrigtingspan. Die gereelde kaptein en flank, Chris Massyn, wat die halfeindstryd teen Shimlas met ’n kuitbesering misgeloop het, is fiks verklaar vir Maandag se stryd.

Maar ook Hawies Fourie, breier van die Maties, het die slegte tyding gekry met die nuus dat een van sy voorste driedrukkers vanjaar, die vleuel Edwill van der Merwe, Maandag se stryd weens ’n enkelbesering gaan misloop.

Van der Merwe het vanjaar reeds sewe keer gaan druk, wat hom naas sy kaptein, Craig Barry, met nege drieë, die naasgrootste drieëvraat in vanjaar se kompetisie maak.

Fourie het aan Pale Toe! gesê dat Van der Merwe se plek deur Tiaan Swanepoel ingeneem sal word.

Die ander Van der Merwe in die Matiesspan, die stut JE van der Merwe, sukkel ook met ’n enkelbesering en sal deur Wesley Adonis vervang word.

Met beide Tukkies (47 drieë) en die Maties (45 drieë) wat vanjaar die kuns van drieë druk deeglik onder die knie het, sal die eindstryd alles behalwe ’n saai affêre wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

gys ·

Hoe is dit moontlik dat een man, Tiaan Swanepoel, beide ‘n vleuel en ‘n stut kan vervang???

Janie Monsieur ·

Dagsê gys,

Dankie vir jou kommenataar. Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.