Varsitybeker: Fokus op kragspel, promosie/relegasie

Die voorste vier spanne van 2017 se elfde Varsitybekerreeks draf Maandagaand in die eerste ronde van die nuwe reeks teen mekaar uit in ʼn seisoen wat ʼn relegasie vir die laaste span in die toernooi inhou.

Trouens, twee van die spanne in vanjaar se Varsitybekerreeks kan dalk aanstaande jaar in die Varsityskildreeks moet speel.

Uit ʼn spel-oogpunt, is die fokus op die kragspelreël die nuwe foefie van die organiseerders. Hoe sal dit deur die spanne gehanteer word, en in welke mate sal dit  bepaal of die beste span in die reeks wel die 2018-reeks wen?

♦  Vir diegene wat nie weet nie: Die nuwe kragspelreël kan een keer per wedstryd deur elke span in werking gestel word deur twee van die teenstanders se agterspelers te identifiseer wat vir drie minute van die veld moet gaan.

Dit kan slegs in die span se eie helfte versoek word.

♦  Maandagaand speel die twee verloorspanne van verlede jaar se halfeind, die Shimlas en UJ, weer teen die spanne wat hulle verlede jaar uit die finaal gehou het.

Tuks, 2017 se kampioenspan wat die Maties in die eindstryd geklop het, draf tuis teen die Shimlas uit en die Maties speel in Johannesburg teen UJ.

♦  Vir al agt die spanne is dit ook ʼn maak-of-breek jaar.

Elke tweede jaar word die span wat laaste in die Varsitybekerreeks eindig, outomaties na die Varsityskildreeks afgeskuif en die voorste span dáár word outomaties bevorder.

Maar ook is daar ʼn promosie/relegasiewedstryd tussen die voorlaaste span in die Varsitybekerreeks en die tweede beste span in die Varsityskildreeks. Dus, dit kan vir twee van vanjaar se deelnemers voorlopig ʼn laaste reeks op die vlak word.

Maandagaand se wedstryde –

16:45 – UP-Tuks vs Shimlas, Tuks-stadion
18:30 – Ikeys vs Wits, UK-rugbyvelde
18:00 – NWU-Pukke vs SUT, Fanie du Toit-sportgronde
19:00 – UJ vs Maties, UJ-stadion

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JB ·

Ek verstaan nie die redenasie agter dit nie. Besig om nuttelose reeks te raak. Daar is teveel tierlantyntjies by betrokke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.