Varsitybeker: Maties ná agt jaar weer die kampioen

Dis baie selde dat jy met kwalik ʼn derde van die besit en ook die gebiedsvoordeel ʼn taai wedstryd gaan wen, en dit is Maandagaand deeglik by die NWU-Pukke tuisgebring.

Die Maties het die eindstryd van die elfde Varsitybekerreeks feitlik uit die staanspoor oorheers. Hulle is ná sewe jaar se titeldroogte en agt jaar sonder die trofee weer die kampioenspan ná hulle oorwinning van 40-7 in die Danie Cravenstadion.

Dit is ook gepas dat hulle die sewe maer jare sedert hulle laaste titelsege in 2010 met ʼn klinkende oorwinning in die universiteit se 100ste bestaansjaar behaal het.

Die Pukke, wat drie weke gelede op eie bodem met 33-elk teen die Maties gelykop gespeel het, was net eenvoudig nie teen die Maties se meer kliniese spel en hulle voorspelers se oorheersing bestand nie. Die telling vertel in hierdie geval die verhaal van feitlik totale oorheersing.

Die Maties was uit die staanspoor geheel en al in die skrums baas. Hulle het in die 20ste minuut ná drie kragtige skrums op die Pukke se doellyn ʼn strafdrie gekry, en was die hele helfte op die voorvoet met meer besit weens goeie werk by die afbeekpunte.

Sprankelrugby in die ware sin was dit nie. Daar was hier en daar agterlangs ʼn opflikkering by albei spanne, maar in die geheel was dit ʼn ware eindstryd waar hardlooprugby ondergeskik was aan die beperking van foute en goeie verdediging.

Die rustydtelling was, vir die Pukke, ietwat vleiend met die telling slegs 10-7 in die Maties se guns. Toe, met die hervatting, het die Pukke hulle eie afskop gewen, begin aanval, maar die Maties se vleuel Edwill van der Merwe het op sy tienmeterlyn onderskep en ʼn sewepuntdrie gaan druk.

Skielik was dit 19-7, en was die Pukke uit die prentjie met hulle voortgesette min besit.

Puntemakers –
Maties (10) 40:
Drieë: Strafdrie, Edwill van der Merwe (sewe-punt-drie), Johan Momsen, Munier Hartzenberg, Ricky Nwagbara. Doelskoppe: Chris Smith (4). Skepdoel: Smith.
NWU-Pukke 7 (7) Drie: Tiaan Bezuidenhout. Doelskop: Schalk Hugo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

TDW ·

Baie geluk Maties! Ek moet net noem, die man wat die beker vashou, sy arms lyk soos gespierde bene…. genugtig!! wat voer hulle die spelers daar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.