Varsitybeker: Maties, Wits en UJ seëvier  

Die Maties het die Noordwes-Universiteit (NWU) met 26-12 geklop in Dinsdag se Varsitybeker-rugbykragmetings.

Die verdedigende kampioen was teen halftyd met 5-6 agter teen die NWU-Arende. Dit was ʼn wedstryd vol foute en verspeelde geleenthede.

Die Maties kon daarin slaag om vier drieë te druk en ʼn bonuspunt te kry en die Stellenbossers kom nou Vrydag teen die Ixias te staan.

Albert Liebenberg, David Brits, George Lourens en Ben-Jason Dixon het die Maties se drieë gedruk. Die NWU-Arende kon nie daarin slaag om ‘n drie te druk nie, maar Keagan Fortune het vier strafdoele deur die pale gejaag.

Die Shimlas het verbete teruggeveg in hul wedstryd teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) maar dit was tevergeefs en UJ het met 34-32 geseëvier.

UJ het teen halftyd met 24-0 voorgeloop. Die Shimlas het egter momentum gekry en vier strafskoppe en drie vinnige drieë later was hulle terug in die wedstryd maar dit was te laat.

Pierre Rabie het twee van die wenspan se vyf drieë aangeteken. UJ speel Vrydag teen die Universiteit van Wes-Kaapland.

Wits het sy eerste oorwinning in vanjaar se reeks behaal toe hy die Madibaz met 77-7 oorrompel het.

Wits het drie strafdrie in die wedstryd gekry terwyl die Madibaz in ʼn stadium ook net 14 spelers op die veld gehad het nadat Jaco van der Walt afgestuur is.

Teen halftyd het Wits reeds met 42-7 voorgeloop en het in die tweede helfte hul spogvertoning voortgesit.

Wits speel Vrydag teen die NWU-Arende en die Madibaz kom teen die Shimlas te staan.

Tuks sal teen die Ikeys te staan kom in Vrydag se ander wedstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.