Varsitybeker: Niks is vanselfsprekend nie

Die derde ronde van vanjaar se Varsitybekerreeks, sal baie jou vertel, is vir UP-Tuks ná sy twee neerlae in twee wedstryde ʼn waterskeiding.

Die verdedigende kampioen kom Maandagaand in Stellenbosch teen die Maties te staan. Dit is altyd moeilik op Coetzenburg en Tuks het in sy laaste twee wedstryde daar vasgeval.

Die vraag is: Waar sal ʼn derde neerlaag in drie wedstryde die Tukkies laat?

In die moeilikheid, dis gewis, en onder geweldige druk. Maar dit sal nie noodwendig die einde van hulle aanslag beteken om die titel te behou nie. Verlede jaar het twee van die spanne in die halfeind drie keer verloor (en toe in die halfeind uitgeval!)

In 2015, toe daar net agt spanne en dus sewe wedstryde per span was, het die NWU-Pukke met net drie oorwinnings en vier neerlae in sewe wedstryde die halfeind en ook die eindstryd gehaal waar hulle teen die Shimlas verloor het.

In 2016 het Tukkies drie keer verloor, wel die halfeind gehaal en toe ʼn yslike loesing teen die Maties gekry.

Maar al hierdie dinge lê in die verlede wat hoogstens wys dat niks in die Varsitybekerreeks onmoontlik is nie.

♦  Wat Maandagaand betref, sal die Noord-Suid-stryd weer met die gewone spanning tussen die Maties (tuis) en Tuks gepaardgaan. Voorspellings is – en dit geld vir die hele kompetisie – nooit slim of maklik nie, maar tog moet die Maties ná twee indrukwekkende oorwinnings vanjaar die gunstelinge wees.

Die Maroentruie het wel in verlede jaar se eindstryd teen Tuks vasgeval, maar dit was in Pretoria, en hulle lyk vanjaar kookwater. Boonop het Tuks die wete dat hulle laaste twee wedstryde, in Stellenbosch, groot oorwinnings vir die Maties gebring het – 29-16 in die ligakragmeting en 49-11 in die halfeind.

♦  Maandag is daar ook vanjaar se twee temmers van die einste Tukkies, Wits en die Shimlas, wat in Bloemfontein kragte meet. Wits het twee uit twee gewen, en die Shimlas het in hulle tweede wedstryd teen Maties slae gekry.

In Bloemfontein sal die Witsies dit moeilik vind om hulle ongeskonde rekord te behou.

♦  Die Ikeys kom op hulle tuisveld teen die Pukke te staan, wat in slegs hulle tweede wedstryd speel. Hulle is voor die toernooi saam met die Maties as die gunstelinge gesien om vanjaar se reeks te wen, en kan hulle aanspraak met ʼn uithalervertoning bevestig.

Die Ikeys was nie gelukkig om die Madibaz te klop nie, maar moes werklik uithaal. Hulle sal nietemin ʼn goeie aanduiding gee van hoe ʼn mens die Pukke moet takseer.

♦  Die Ixias het verlede week ʼn ruk goed teen UJ uitgehou, maar sal dit vir 80 minute op hulle tuisveld teen die Madibaz moet volhou om ʼn eerste sege te behaal.

Maandagaand se bepalings –

16:45 – Ixias vs Madibaz (TV SuperSport)
18:30 – Shimlas vs Wits
18:30 – Ikeys vs NWU-Pukke
19:00 – Maties vs UP-Tuks (TV Supersport)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.