Varsitybeker: opwindende rugby, geelkaarte kenmerk tweede ronde

Schalk Hugo, losskakel van die Pukke, met een van sy pogings pale toe. (Foto Mario van de Wall/Saspa)

Schalk Hugo, losskakel van die Pukke, met een van sy pogings pale toe. (Foto Mario van de Wall/Saspa)

Daar was Maandagaand lekker rugby, heelwat geelkaarte en ʼn aanduiding van watter spanne hier na die einde se kant toe daar behoort te wees wanneer die Varsitybekerreeks oor net  twee maande eindrondes se kant toe staan.

Na twee  rondes is die Pukke, die Shimlas en Tuks (wat hierdie week ’n loslootjie gehad het) die enigste onoorwonne spanne in die kompetisie. En hulle sal ook nie oorgerus kan gaan slaap met gevaarlike teenstand en een of twee buiteperde wat die kaarte deurmekaar kan krap nie.

Pukke lyk onstuitbaar

Die Pukke het opwindende hardlooprugby opgedis om die Madibaz 37-7 Maandagaand op die Fanie du Toit-sportterrein in Potchefstroom te klop.

Die Potchefstromers, met die haker Wilmar Arnoldi en die flank Boela Venter aan die spits, het vier keer agter die Madibaz se doellyn gaan kuier, wat aan hulle ook ’n belangrike bonuspunt besorg het.

Praat van Arnoldi, hy het in amper elke beweging opgeduik en meters veld met sy inklimspel gewen.

Teen rustyd was die tuisspan reeds gemaklik 17-0 voor.

Anders as wat die telling mag aandui, is die Madibaz allermins ʼn hierjy-span. Hulle het wel verskeie strafskoppe afgestaan, maar het self soms opwindende lopies met die bal in die hand ingekry.

Maar dat die Pukke met selfvertroue speel, is duidelik. Hulle het die vaste fasette oorheers, wat ’n platform vir agterspelers soos die heelagter Lungelo Gosa en die senter Henko Marais geskep het om te kan baljaar.

Vir die besoekers het die flank Stephanus Niewoudt sy hart uitgespeel en male sonder tal omgekeerde besit vir sy span bewerkstellig. Die Madibaz gaan nog van die groot gunstelinge laat sweet, dit is vir seker.

Puntemakers –
Pukke (17) 37:
Drieë: Wilmar Arnoldi, Elden Schoeman, Jeandré Rudolph 2. Doelskoppe: Schalk Hugo 4. Strafdoele: Hugo 3.
Madibaz (0) 7: Drieë: Xandre Vos. Doelskoppe: Simon Bolze.

Ikeys terug op wenpad

Die Ikeys het die Ixias Maandagmiddag 21-12 op die Green Mile in Kaapstad met ʼn dramatiese drie na die eindtoeter en van binne hulle eie kwartgebied af geklop. Dit was die Kapenaars se eerste oorwinning sedert die 2015-seisoen in die Varsitybekerreeks.

Die wedstryd, wat in winderige toestande beslis is, is gekenmerk deur verskeie hanteerfoute van beide spanne en die meer as 30 strafskoppe wat toegeken is.

Op die einde het die tuisspan gewen omdat hulle beter by die toestande aangepas het, want soos al gebruiklik in  die reeks is, het die (baie sterk) wind weer in elke helfte die span aan die noordelike kant op hulle doellyn help vaspen.

Die Ikeys het in die eerste helfte met die wind van agter gespeel en dit was vir hulle belangrik om ’n stewige voorsprong teen die omdraaislag op te bou. Die 12-0 voorsprong met rustyd was dalk nie heeltemal genoeg nie, is daar gevoel.

In die tweede helfte het die blitsige Darren Adonis twee keer met flink rigtingverandering en vaart vir die Ixias gaan druk en die een doelskop het die telling 12 elk gemaak.

Met amptelike speeltyd verstreke, was die Ixias sterk op die aanval. Die tuisspan het ’n strafskop gekry en het die Ixias aan die slaap gevang deur ’n vinnige tikskoppie te neem en te gaan druk.

Ongedissiplineerde spel deur Ikeys is iets wat hulle amper die wedstryd gekos het. Hulle kaptein Jason Klaassen is met ’n rooikaart in die eerste helfte afgejaag, terwyl Joel Smith en Kuyenzeka Xaba albei geelkaarte gekry het.

Vir die besoekers het die losskakel Martin Jacobs en die heelagter Darren Adonis blink vertonings gelewer. Adonis is dan ook met twee drieë beloon, en in beide het Jacobs ’n hand gehad.

Puntemakers –
Ikeys (12) 21: Drieë
: Cuan Hablutzel, Joel Smith, Rico Lategan (*). Doelskoppe: Lohan Lubbe, Rob Anderson.
Ixias (0)12: Drieë
: Darren Adonis 2. Doelskop: Martin Jacobs.
*sewepuntdrie

Maties klop Wits net-net

In Stellenbosch moes die Maties hard werk om ’n 26-14-oorwinning oor Wits te behaal.

Wits het eerste bloed geruik toe die agsteman Jethro de Lange vroeg in die eerste helfte gaan druk het. Die Stellenbossers se losskakel, Ernst Stapelberg, het hulle met twee strafskoppe binne trefafstand gehou.

Met die rustydtelling slegs 6-5 in die tuisspan se guns, kon die wedstryd nog enige kant toe gaan.

Die Maties het egter in die tweede helfte danksy drieë deur Craig Corbett en Kyle Steyn die momentum in hulle guns laat draai. Dit was ondanks hulle flank Janco Venter wie se tweede geelkaart na rustyd ʼn rooie beteken het.

Wits het met twee strafskoppe en ’n skepskop deur die skrumskakel Ruan Cloete amper daarin geslaag om die agterstand uit te wis, maar die Maties het genoeg gedoen om met ’n oorwinning weg te stap.

Die Witsies het gewys dat hulle nie deur die groot kanonne onderskat kan word nie.

Puntemakers –
Maties (6) 26:
Drieë: Craig Corbett, Kyle Steyn (*). Doelskop: Ernst Stapelberg. Strafdoele: Stapelberg 4.
Wits (5) 14: Drieë: Jethro de Lange. Strafdoele: Ruan Cloete 2. Skepdoel: Cloete. *sewepuntdrie

Shimlas verniel UJ

Die Shimlas het ses drieë in Johannesburg ingeryg om die UJ 47-29 te klop.

Divan Nel, losskakel van die tuisspan, het die eerste punte op die telbord gesit toe hy met ’n strafskop die Johannesburgers laat voorloop het. Met die Shimlas teen rustyd slegs 17-8 voor sou die UJ nog geglo het hulle staan ’n realistiese kans om ’n oorwinning te beklink.

Vier drieë in die bestek van 16 minute in die tweede helfte deur die Bloemfonteiners het egter die wind uit die UJ se seile gehaal.

Die UJ is self met ’n bonuspunt beloon vir vier drieë, maar is steeds segeloos in hierdie jaar se kompetisie.

Daar is vyf geelkaarte in die wedstryd toegeken, waarvan vier aan die Shimlas was – en drie van hulle was in die laaste tien minute. Vorentoe kan dit vir hulle lol as die dissipline nie opgeskerp word nie.

Puntemakers –
UJ (8) 29:
Drieë: Ronald Brown, Jo-Hanco de Villiers, Johan Esterhuizen, strafdrie. Doelskoppe: Divan Nel, Ewan Adams. Strafdoel: Nel.
Shimlas (17) 47: Drieë: Neil Claassens, Stephan Janse van Rensburg (2), Marco Mason, Phumzile Maqondwana, Johan Kotzé. Doelskoppe: Mason 4. Strafdoel: Mason.
 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.