Varsitybeker: Piratesbekervyande Pukke en UJ slaags

Natuurlik is verrassings moontlik, en dit kom dikwels in die Varsitybekerreeks voor, maar dit sal meer as ʼn verrassing, trouens ʼn skok,  wees as die Maties Maandagaand op Coetzenburg teen die Ixias vasval.

Ja, die Ixias het verlede week met durf met ʼn enkele punt op hulle tuisveld teen die Madibaz deurgeskuur. Maar die Maties is nie die Madibaz nie en die Danie Cravenstadion is nie die SUT se tuisveld nie. Die Maties behoort hul derde drieë-bonuspunt in vier wedstryde te verdien.

♦  Een van dié wedstryde in die vierde ronde sal seker die kragmeting tussen die twee Piratesbekerspanne, die NWU-Pukke en UJ in Potchefstroom wees. Die Pukke is verlede week deur die Ikeys geskok en móét eenvoudig wen om hulle nie skielik tussen die onderste spanne te bevind nie.

Voor hulle tuisskare, gewoonlik op ʼn volgepakte Fanie du Toit-veld, is die Pukke moeiliker as die meeste tuisspanne. Hulle het boonop gehalte voorlangs en vaart agterlangs.

Maar die tuisveldvoordeel op sigself sal hulle nie help nie. Hulle het in hul laaste wedstryd daar teen die einste UJ verloor en dit kan weer gebeur.

UJ het verlede week ʼn loslootjie gehad en sal wil beter as die Potchefstromers wat verlede week onverwags teen die Madibaz verloor het nadat húlle ʼn blaaskans in die tweede ronde gehad het.

♦  Nog ʼn wedstryd wat in ʼn riller kan ontwikkel, is die kragmeting van die Ikeys op hulle tuisveld met die Shimlas, wie se spel tot dusver tussen baie goed en middelmatig gewissel het.

Die Shimlas kan hulle klaarmaak vir ʼn stewige pak en ʼn lekker agterlyn wat as eenheid ʼn gedugte span is. Die Ikeys het, ná die onverwagte tuisneerlaag teen die Witsies in die eerste ronde, drie keer ná mekaar gewen en is vol selfvertroue.

Die wedstryd in Kaapstad sal, soos amper gebruiklik is, weer in ʼn redelike sterk wind waarvan die besoekende spanne nie baie hou nie op die “berugte” Green Mile beslis word.

♦  Wits het verlede week in Bloemfontein uit die bus geval toe die Shimlas hulle stukkend gehardloop het.

Die Madibas, wat ná twee wedstryde steeds sonder ʼn oorwinning is en teen wie die Ikeys in die Baai speel, is nou wel nie die Shimlas nie, maar Wits durf hulle nie onderskat nie.  Tog sal dit ʼn mens verbaas as die Johannesburgse span vasval met beter balans en spelersgehalte. Hulle behoort veral voorlangs die grondslag te kan lê.

Bepalings –

16:45 – NMU Madibaz vs Wits (TV)
18:30 – Maties vs Ixias
18:30 – Ikeys vs Shimlas
19:00 – NWU-Pukke vs UJ (TV)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.