Varsitybeker: Pylvak-gestoei om uitspeelplekke

Die NWU-Pukke se wedstryd Maandagaand teen Wits in Johannesburg is vir albei spanne maak of breek.

Verloor Wits, kan hy nie meer tweede eindig nie. Verloor die Pukke, sal dit bars kos om nog eerste in die Varsitybekerreeks te eindig.

Hulle is tans twee punte voor Wits en ses agter die Maties en in die tweede plek op die punteleer. Twee bonuspunte kan die Pukke egter nog in die prentjie om die eerste plek hou.

Hoe so? Die Pukke speel aanstaande week tuis teen die Maties. Hulle is, met twee wedstryde nog oor, ses ligapunte agter die Maties, teen wie hulle sal moet wen en van ʼn bonuspunt weerhou, sou hulle Maandagaand, met twee bonuspunte, teen Wits verloor.

Klop die Pukke egter vir Wits, is die Pukke teen die Maties aanstaande week op Potchefstroom – vir hierdie twee spanne ʼn direkte stryd om eerste plek. Die wenner eindig eerste en basta!

Dít wat drie van die vier voorbokke betref.

UJ, tans in vierde plek, kan nog tweede eindig as Wits teen die Pukke wen en die Pukke daarna ook teen die Maties vasval. Bonuspunte in die oorblywende wedstryde en ook punteverskil kan die uitspeelplekke en tuisveldvoordeel bepaal.

Die Ikeys het ook nog ʼn (baie onwaarskynlike) uitspeelkans. Hulle is tans ses punte agter UJ, maar kan vyf daarvan vanaand teen die Ixias kry. Dan moet hulle aanstaande week ook vir UJ klop, wat die onbenydenswaardige taak het om Maandagaand in Pretoria teen UP-Tuks seker te maak hulle bly in die uitspeelpermutasie!

Tuks, die verdedigende kampioen wat vanjaar teleurstellend was, het verlede week plek-plek gewys hulle is aan’ t regkom. Hulle speel self vir oorlewing in die reeks.

En die Shimlas? Hulle speel hul laaste twee wedstryde, albei tuis, teen die twee onderste spanne op die punteleer: teen die Ixias Maandagaand en aanstaande week teen die Madibaz. Selfs tien punte op die punteleer lyk nie of dit genoeg sal wees nie.

Deurmekaar? Baie!

Maar as jy geld móét opsit, sal dit op die huidige vier voorlopers moet wees: die Maties (31 punte) en net die Pukke wat aanstaande week nog voorlê; die Pukke (25 punte) wat voor die Maties nog eers Maandagaand weg teen die Witsies (23 punte) in húlle laaste wedstryd speel; en UJ, wat weg teen Tuks en aanstaande week tuis teen die Ikeys speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.