Varsitybeker: Pylvak sal gestoei vir halfeind-plekke afgee

Ikeys sal Wits se senter Aphiwe Dyanti moet vasvat (Foto: saspa)

Ikeys sal UJ se senter Aphiwe Dyanti moet vasvat (Foto: Saspa)

Ses universiteite het nog ’n realistiese kans om die uitspeelronde van vanjaar se Varsitybekerreeks te haal en met slegs drie rondes se rondomtalie-wedstryde oor, kan geen span ’n neerlaag bekostig nie.

’n Neerlaag kan UJ se einde beteken

Die UJ en die Ikeys kom Maandag op die Green Mile in Kaapstad teen mekaar te staan in ’n wedstryd wat die besoekers nie net moet wen nie, maar verkieslik ook met ’n bonuspunt om hulle aanspraak op ’n plek in die halfeindronde te behou.

Nadat die Johannesburgers se seisoen aanvanklik gesukkel het om momentum op te tel, het hulle in die laaste paar weke spoggerige rugby begin speel.

Hulle is tans in die vierde plek op die puntelys, met hulle oorblywende drie wedstryde (Ikeys, Wits en Maties) wat hulle seisoen kan maak of breek.

Die Ikeys, aan die ander kant, bevind hulle sewende op die punteleer, met ’n uiters geringe kans om die uitspeelrondes te haal.

Maar as die UJ gedink het hulle gaan Maandag net Kaap toe om die punte te gaan haal, maak hulle ’n fout. Die Green Mile is berug vir winderige toestande – soos Sondag se afstel van die Kaapstad-Fietsrytoer (voorheen die Argustoer) van getuig. Dit het al menige besoekende spanne se ondergang beteken het.

Ook sal die Kapenaars wil wys dat hulle tot meer in staat is. Hulle het al plek-plek vanjaar goeie rugby opgedis, sonder om regtig die wêreld aan die brand te speel.

Die Johannesburgers het ’n gevaarlike agterlyn met veral die vleuel Godfrey Ramaboea, die senter Aphiwe Dyanti en die heelagter Ewan Adams, wat bekend is om hulle aanvallende vermoëns.

Spanne –

Ikeys: 15. Gerard Pieterse, 14. Rayno Mapoe, 13. Joel Smith, 12. Hendrik Lategan, 11. Sebastian Roodt, 10. Rob Anderson, 9. Stefano de Gouiveia, 8. Nyasha Tarusenga, 7. Kuyenzeka Xaba, 6. Jason Klaasen (kapt.), 5. Gary Porter, 4. Duncan Saffy, 3. Michael Kumbirai, 2. Cuan Hablutzel, 1. Wayrin Losper. Bank: 16. Martin Chandeler, 17 William Day, 18 Lee-Marvin Mazebuko, 19 Luke Stringer, 20 Sanele Malwane, 21 Michael Henning, 22 Jez McIntyre, Suwi Chibale.
UJ: 15. Ewan Adams, 14. Dean Brown,13. Aphiwe Dyanti, 12. Jaco Fourie, 11. Godfrey Ramaboea, 10. Divan Nel, 9. Johan Esterhuizen, 8. Jo-Hanco de Villiers, 7. Wian Conradie, 6. Gavin Delport, 5. Adrian Bester, 4. Kevin du Randt, 3. Nico du Plessis, 2. Johannes Snyman (kapt.), 1. Waldo Weideman. Bank: 16. Le Roux Baard, 17. Kyle Kruger, 18. Chergin Fillies, 19. Reinhard Nothnagel, 20. Leon Massyn, 21. Devon Maré, 22. Carlisle Jordaan, 23. Peter-John Walters.

Afskop: 16:45 (Regstreeks op SuperSport.)

Wits moet wys hulle is meer as net tuis op dié vlak

Wits sal vol selfvertroue wees wanneer hulle Maandag in Johannesburg teen die Madibaz te staan kom, nadat hulle verlede week die verdedigende kampioen, die Pukke, geklop het.

Daar word al die hele jaar gepraat oor wat met rugby by Wits aangaan.

Wits was ongelukkig om vroeër in die toernooi teen die Maties en die Shimlas vas te val, maar na verlede week se Slag van Potchefstroom het die Johannesburgers dalk dit wat hulle die nodigste het: die selfvertroue dat hulle kan wen.

Wen Wits hulle oorblywende drie wedstryde (Madibaz, UJ en Ikeys), kan hulle hul waarskynlik in die halfeindronde van die toernooi bevind.

Die Johannesburgers se agterlyn wemel van vlugvoetige spelers soos die losskakel Gianni Lombaard, die buitesenter Wandisile Simelane en die vleuel Kwanele Ngema wat net die kleinste gaping nodig het om amok te maak.

Nie dat die Madibaz ’n maklike teenstander is nie, maar Wits se begaafde groep spelers is waarskynlik meer gemotiveerd vir ’n oorwinning.

Aan die ander kant is dit ook so dat oorgerustheid al baie spanne hard laat val het.

Spanne –

Wits: 15. Luxolo Ntsepe, 14. Kwanele Ngema 13. Wandisile Simelane, 12. Brendan Hewitt, 11.Joshua Jarvis, 10. Gianni Lombaard, 9. Ruan Cloete, 8. Jethro de lange, 7. Conor-Terrah Brocksmidt, 6. Constant Beckerling (kapt.), 5. Rhyno Herbst, 4. Graham Logan, 3. Luvuyo Pupuma, 2. CJ Conradie, 1. Ameer Williams. Bank: 16. Justin Brandon, 17. Brandon Palmer, 18. Pascal Snyman, 19. Michael Renwick, 20. Karl Erasmus, 21. Manuel Rass, 22. Adriaan van Blerk, 23. CJ Greeff.
Madibaz: 15. Lindelwe Zungu, 14. Athenkosi Mayinje, 13. Ivan-John du Preez, 12. Andile Jho, 11. Jixie Molapo, 10. Thomas Kean, 9. Lovu Claasen, 8. Kevin Kaba (kapt.), 7. Justin Hollis, 6. Brandon Brown, 5. Gerrit Huisamen, 4. Wynand Grassmann, 3. Nicolaas Oosthuizen, 2. JP Jamieson, 1. Xandre Vos. Bank: 16. Jedwyn Harty, 17. Zizi Yase, 18. Nicolas Roebeck, 19. Reyno du Toit, 20. Hayden Tharratt, 21. Davron Cameron, 22. Simon Bolze, 23. Siphumelele Msutwana.

Afskop: 19:00 (Regstreeks op SuperSport.)

Shimlas moet nou dinge vasvat

Wanneer die Shimlas Maandagaand teen Tuks in die Vrystaatstadion in Bloemfontein uitdraf, sal dit in hulle agterkoppe wees dat ’n neerlaag nie ’n opsie is nie.

Die Vrystaters het verlede week sleg streepsuiker gekry teen die Maties wat eerste op die punteleer is. Tuks bevind hulle in die tweede plek – en val die Shimlas weer vas, is daar ’n moontlikheid dat die uitspeelrondes hulle nie beskore gaan wees nie.

Die Pretorianers het verlede week die Ixias, die Shimlas se buurman, met ’n 100-tal afgestof en sal vol vertroue in die Rosestad aankom.

Boonop ken Impi Visser, binnesenter van Tuks, die pad doellyn toe, en die Shimlas sal hom in toom moet hou.

Die Shimlas en Tuks is albei bekend vir hulle hardlooprugby, iets wat dié wedstryd dalk die keur van Maandag se wedstryde kan maak.

Spanne –

Shimlas: 15. Sechaba Motsoele, 14. Gladman Maqina, 13. Lihleli Xoli, 12. Stephan Janse van Resnburg (kapt.), 11. Marco Mason, 10. Henco Posthumus, 9. Dian Badenhorst, 8. Bernardus Erasmus, 7. Wilhelm Kotzenburg, 6. Benjamin Jansen van Vuuren, 5. Ruben Schoeman, 4. Nicolaas Immelman, 3. Ruan Kramer, 2. Francois Steyn, 1. Kwenzokuhle Blose. Bank: 16. Anrich Alberts, 17. Johan Kotze, 18. Thabisdo Msiza, 19. Christoffel Roelofse, 20. Musa Mahlasela, 21. Albertus Pretorius, 22. Carel-Jan Coetzee, 23. Phumzile Maqondwana.
Tuks: 15. Divan Rossouw, 14. Dewald Naude, 13. Toko Maebane, 12. Impi Visser, 11. Sibahle Maxwane, 10. Tinus de Beer, 9. Rian Warner, 8. Clyde Davids, 7. Chris Massyn (kapt.), 6. Eduan Lubbe, 5. Brian Leitch, 4. Aston Fortuin, 3. Neethling Fouche, 2. Corniel Els1. Andrew Beerwinkel. Bank: 16. Jan-Henning Campher, 17. Jaco Holtzhausen, 18. Marius Verwey, 19. Juan-Re Swanepoel , 20. Theo Maree, 21. Keanan van Wyk, 22. Joshua Stander, 23. Franco van den Berg.

Afskop: 18:30

Is dit neusie verby vir die Pukke?

Die Pukke reis Maandag Bloemfontein toe om nie net ’n oorwinning nie, maar ook ’n bonuspunt, teen die sukkelende Ixias te gaan oes.

Dat die Potchefstromers broos is na verlede week se neerlaag teen Wits, is ’n gegewe, maar net ’n rugbyleek sal die Pukke afskryf.

Hulle bevind hulle tans vyfde op die punteleer, met slegs drie oorwinnings op hulle kerfstok. Verlede jaar het hulle vyf oorwinnings in die groepwedstryde behaal en derde op die puntelys geëindig.

In hulle laaste twee wedstryde, teen die Ixias en Tuks, is oorwinnings nou ononderhandelbaar.

Vir Jonathan Mokuena, afrigter van die Pukke, sal die vele besit wat in die losgemale teen Wits afgestaan is, ’n bron van kommer wees. Dit is iets wat ongetwyfeld die afgelope week op die oefenveld aangespreek is.

Met die Pukke se voorspelers op die agtervoet teen Wits, het dit hulle agterlyn van ordentlike balbesit beroof. Spelers soos die senter Elden Schoeman en die vleuels Jimmy Mpailane en Lungela Gosa is bekend daarvoor dat hulle gevaarlik met die bal in die hand is. Maar dan moet die voorspelers voorlangs oorheers.

Vir die Ixias is daar net een manier om hulle vernederende neerlaag van verlede week teen Tuks (100-0) uit hulle gestel te kry en dit is om met ’n geloofwaardige vertoning Maandag hulle aansien terug te kry.

Spanne –

Ixias: 15. Ruan Wasserman, 14. Masego Toolo, 13. Gert Cronjé, 12. Johan Nel, 11. Ondo Nkadisa, 10. Martin Jacobs, 9. Ruben Heymans, 8. Dean Rossouw (kapt.), 7. Vincent Maruping, 6. Dian Dry, 5. Brendan Verster, 4. Kian Skippers, 3. Chrisjan du Toit, 2. Hendrik Smit, 1. Kabous van Schalkwyk. Bank: 16. Stefan Jacobs, 17. Francois du Toit, 18. Kyle Ess, 19. Pieter Venter, 20. Stefan Kruger, 21. Dean Jacobs, 22. Waldo Putter, 23. Sylvestor Makakole.
Pukke: 15. Tapiwa Mafura, 14. Jimmy Mpailane, 13. Elden Schoeman, 12. Jaap Pienaar, 11. Lungelo  Gosa,  10. Julian Delicado, 9. Chriswill September, 8. Jeandré Rudolph (kapt.), 7. Marno Redelinghuys, 6. Boela Venter, 5. Walt Steenkamp, 4. Jaco Swanepoel, 3. Morné Strydom, 2. Wilmar Arnoldi, 1. Matima Mangany. Bank: 16. Louis van der Westhuizen, 17. Nico van Tonder, 18. Dewald Dekker, 19. Ruan Venter, 20. Wandile Mazibuko, 21. Caleb Louw, 22. Nkululeko Mcuma, 23. Dean Stokes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.