Varsitybeker: Reën kelder hardloopplanne

nuw-pukke-logo-cropDie eerste ronde van die Varsitybekerreeks, wat grootliks op nat velde beslis is, het gewys dat die spanne die bal wil rondgooi – en dis sommer goeie nuus vir ondersteuners.

Ongelukkig het Maandagaand se soms gietende reën in Johannesburg en Pretoria drie van die eerste ronde se wedstryde redelik kwaai beïnvloed.

♦  Die Pukke het die verdediging van hulle Varsitybeker-kroon op ’n hoë noot begin deur die UJ 16-12 Maandagaand in die UJ-stadion in Johannesburg te klop.

Die wedstryd, wat in gietende reën beslis is, was beslis nie ’n skouspel nie, met talle hanteerfoute.

Nadat die Potchefstromers vroeg in die eerste helfte die doellyn oorgesteek het na skitterspel deur die kaptein Jeandré Rudolph wat die vleuel Jimmy Mpailane deurgestuur het, is die wedstryd tussen die skopskoene van Divan Nel en die besoekers se Schalk Hugo beslis.

Selfs die skopwerk van die twee is met die nat vastrapplekke bemoeilik.

Danksy Nel se skopvoet het die tuisspan met rustyd ’n 12-10 voorsprong geniet en is daar geglo dat die Johannesburgers die knoop kan deurhak.

Die UJ se uitblinker-agsteman, Jo-Hanko de Villiers, het die besoekers by die afbreekpunte laat sweet en talle kere omgekeerde balbesit bewerkstellig. Dit tesame met aggressiewe skrumwerk van die tuisspan in die tweede helfte, was egter nie genoeg om die Potchefstromers te klop nie.

Op die ou einde het die Pukke se ervaring, met Rudolph aan die spits, die knoop deurgehak.

Puntemakers –
UJ (12) 12 : Strafdoele: Divan Nel 4
Pukke (10) 16: Drie: Jimmy Mpailane. Doelskop: Schalk Hugo. Strafskoppe: Hugo 3

♦  Die Shimlas het Wits in die eerste wedstryd van die 2017-reeks 26-21 in die Wits-stadion in Johannesburg geklop.

Die wedstryd, wat op ’n sopnat veld en in ysige koue beslis is, het altesaam sewe drieë opgelewer – ’n duidelike bewys van die positiewe ingesteldheid van albei spanne om die bal die werk te laat doen.

Die Johannesburgers het, in hulle eerste seisoen terug in die bekerkompetisie, gewys dat hulle nie terugdeins vir hulle meer bekende teenstanders nie. Hulle het besit by die losgemale aanvanklik oorheers, met die slotte Graham Logan en Rhyno Herbst en die haker CJ Conradie wat verskeie male omkeerbesit bewerkstellig het.

Hulle was ook eerste op die telbord, nadat die vleuel Kwanele Ngema met ʼn slim, beplande beweging, soos ’n lem deur die Shimlas se middelveld gesny het om onder die pale te gaan druk.

Die Shimlas het egter teruggeveg en twee drieë gaan druk toe die Witsflank Ruan McDonald met ’n geelkaart gestraf is om rustyd 19-7 voor te loop.

Ná rustyd het die Witsies self teruggeveg met twee drieë en weer die voortou geneem.

Die Shimlas het egter deursettingsvermoë gewys deur in die tuisspan se helfte te boer en toe die plaasvervangerhaker Francois Steyn gaan druk het, was die oorwinning vir alle praktiese doeleindes in die sakkie.

Vir die besoekers het die heelagter Sechaba Motsoela met sy kraglopies beïndruk, terwyl die lostrio van Phumzile Maqondwana, Daniel Maartens en Bernardus Erasmus in die Witsies se gesigte geboer het en die stryd om die losbal gewen het.

Die tuisspan sal teleurgesteld wees dat hulle nie die kragmeting kon wen nie. Hulle  was immers vir ’n groot gedeelte van die wedstryd voor.  Maar hulle het geen rede om in sak en as te wees nie. Dié Witsies gaan nie vanjaar oordonder word nie.

Die Shimlas het op hulle beurt gewys hulle gaan vanjaar rugby speel wat toeskouers sal vermaak.

Puntemakers –
Wits (7) 21: Drieë: Kwanele Ngema, Graham Logan, CJ Conradie. Doelskoppe: Warren Gilbert 3.
Shimlas (19) 26: Drieë: Marco Mason, Dian Badenhorst, Niell Stannard (*), Francois Steyn. Doelskoppe: Mason 2
*Sewepuntdrie

♦  Die Tukkies het die Maties op Loftus Versveld in Pretoria 13-9 geklop.

Soos dit ʼn stryd tussen die twee groot universiteitsvyande betaam, was die wedstryd tot vyf minute voor die einde in die weegskaal, skryf PK Deysel.

Toe het die tuisspan se losskakel Thinus de Beer die Maties se voorsprong ongedaan gemaak met ʼn drie wat grootliks teen die gebiedsoorheersing in die laaste kwart gekom het.

Die wedstryd is hoofsaaklik voorlangs beslis en van die hardlooprugby waarop gehoop is, is nie genoeg gesien nie. Dit wat daar wel was is deur gietende reën in veral die eerste helfte en die nat veld bemoeilik.

Boonop was albei spanne se verdediging meer as opgewasse en daar is dus taamlik tussen die voorspelers gespook.

Dit was taai maar onaanskoulik en nie te veel van die spanne se sterkpunte en studentetalent is gesien nie.

Die Maties was rustyd 6-5 voor, danksy twee strafdoele deur hul losskakel Ernst Stapelberg. Tuks se drie deur hul agsteman Chris Massyn het hulle  na 27 minute laat voorloop voordat Stapelberg se tweede strafdoel kort voor rustyd die voorsprong aan sy span gegee het.

Dit het na 58 minute 8-6 in die tuisspan se guns geword toe De Beer sy tweede strafdoel oorgeklits het, maar  Stapelberg het die Kapenaars feitlik onmiddellik weer met sy derde strafdoel laat voorloop.

Die volgende punte het eers 17 minute later gekom toe De Beer sy pad deur ʼn klomp spelers oor die doellyn gewriemel het.

Puntemakers –
Tuks (5) 13:
 Drieë: Chris Massyn, Thinus de Beer. Strafdoel: Thinus de Beer.
Maties  (6) 9: Strafdoele: Ernst Stapelberg 3. 

♦  Dit gaan weer ʼn lang seisoen vir die Ikeys wees, wil dit lyk.

Hulle het by Ravensmead gespeel omdat hulle veldprobleme het en is oortuigend deur die Madibaz afgeransel, 36-8.

Die Baaise span het vyf drieë gedruk, die meeste van die eerste ronde, en beklee met die groot oorwinning en hulle bonuspunt die voorste plek op die punteleer. Net die Pukke het Maandag ook ʼn bonuspunt vir vier of meer drieë behaal.

Die Madibaz se vaste fasette was uitstekend, en hulle het veral van omkeerbesit af lekker agterlangs gehardloop. Hulle gaan nog ʼn paar spanne in  die reeks skrikmaak, selfs al speel hulle vanjaar geen wedstryd tuis nie – maar die Ikeys, ondanks stukkies goeie werk hier en daar, gaan maar weer sukkel.

Puntemakers:
Ikeys  (3) 8: Drie: Cuan Hablutzel. Strafdoel: Lohan Lubbe
Madibaz (24) 38: Drieë: Andile Jho (2), Jixie Molapo*, Lovu Claassen, Kevin Kaba
Doelskoppe: Simon Bolze (3). Strafdoele: Simon Bolze
*Sewepuntdrie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.