Varsitybeker: Shimlas twee tuiswedstryde kwyt

shimlas-uv-logo_-jpgDie Universiteit van die Vrystaat (UV) het versoek dat die volgende twee tuiswedstryde van die Shimlas in die Varsitybeker-reeks in die Vrystaatstadion gespeel word.

Lacea Loader, woordvoerder van die UV, het Maandag gesê die wedstryde word na die Vrystaatstadion geskuif “weens steeds ongedane sake waaroor die universiteitsbestuur en geaffekteerde universiteitsgemeenskappe in gesprek is”.

Sy het bevestig Maandag se wedstryd teen Maties sal nie meer, soos aanvanklik aangekondig is, op SuperSport uitgesaai word nie.

“Dit sluit die Shimlapark-verslag in wat in 2016 deur ʼn ondersoekpaneel onder leiding van oudregter Johann van der Westhuizen saamgestel is. Die senior leierskap wil hierdeur geleentheid aan die geaffekteerde universiteitsgemeenskappe gee om die ongedane sake met onbelemmerde gesindhede deur te werk,” het Loader gesê.

Xhanti-Lomzi Nesi, bestuurder van die Varsitybekerreeks, het aan Pale Toe! bevestig dat die UV versoek het dat Maandag se wedstryd teen die Universiteit Stellenbosch (Maties) en eerskomende week s’n teen die Universiteit van Pretoria na die Vrystaatstadion geskuif word.

“Die UV is besig met onderhandelings en sal ons laat weet of die laaste groepwedstryd (op Maandag 20 Maart teen die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit) en ’n moontlike halfeindstryd die daaropvolgende week op die kampus gespeel sal word,” het Nesi gesê.

Gerugte het dit dat die Shimlas se tuiswedstryde en veral die een teen Maties wat op SuperSport vertoon sou word, geteiken word deur diegene wat onder meer ongelukkig is oor die Shimlapark-verslag.

Ongeveer 20 mense het op 13 Februarie vanjaar, gedurende die Shimlas se wedstryd teen die Universiteit van Kaapstad, wat op Shimlapark beslis is, geëis dat die UV-bestuur ’n aankondiging maak oor die verslag van die “Shimlapark-voorval” in 2016, toe stakende werkers en studente tydens ’n Varsitybeker-wedstryd slaags geraak het.

Prof. Nicky Morgan, waarnemende rektor van die UV, het toe aan die groep gesê dat die verslag reeds in Januarie aan studentestrukture beskikbaar gestel is.

Maar Gatebe Gcinumoze, wat aan die Free Education Movement-beweging op die UV-kampus behoort, het aan Pale Toe! gesê die verslag is eers aan studentegemeenskappe beskikbaar gestel nadat hulle gedreig het om wedstryde van die Shimlas vanjaar te ontwrig.

“Die Shimlas se tuiswedstryde in die Varsitybeker-reeks kan beslis nie op kampus voortgaan, voordat die aanbevelings wat die verslag gemaak het in werking gestel is nie,” het Gcinumoze gesê.

Die UV se verklaring oor die verslag, waaroor Maroela Media vroeër berig het, sê dat “openlike en verskuilde rassisme, opsetlik of andersins, sonder versuim deur die UV hanteer moet word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.