Varsitybeker: Só verloop die aksie

(Foto: pixabay)

Die Maties, Ikeys, UJ, die Ixias en die NWU-Arende het sukses geproe in Donderdag se Varsitybeker-rugbykragmetings.

Die Maties het Tuks met 31-24 op Loftus Versfeld geklop. ʼn Strafdrie in die 33ste minuut het gesorg dat die Maties eerste op die telbord kom en teen halftyd was dit 15-6 in die Stellenbossers se guns.

Hanru Sirgel en Johan Mulder het drieë vir Tuks aangeteken terwyl Zander du Plessis een doelskop en vier strafdoele deur die pale gestuur het.

Vir die Maties was dit Munier Hartzenberg en Bobby Alexander wat oor die doellyn geduik het terwyl Christopher Schreuder met een doelskop en vier strafdoele geslaag het.

Die Ikeys het die Shimlas met 59-5 afgeransel. Die Ikeys het sy onoorwonne rekord voortgesit op Loftus Versfeld en was teen halftyd met 31-5 voor. Twee rooi kaarte het die Shimlas se taak bemoeilik en die Ikeys het uiteindelik agt drieë gedruk.

Die NWU-Arende het sy eerste wedstryd in die tweede fase met 28-15 teen die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gewen. Charl Pretorius het laat in die wedstryd die Noordwesters se vierde drie – vir die bonuspunt – gedruk.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het sy eerste oorwinning in die reeks behaal toe hy die Madibaz met 33-22 geklop het. UJ het teen rustyd gemaklik met 24-5 voorgeloop.

Die Ixias is steeds ook onoorwonne nadat die Bloemfonteiners vir Wits met 19-11 geklop het. Wits was met 11-7 voor teen rustyd. Janus Venter het twee van Ixias se drie drieë aangeteken.

Die Varsitybeker-aksie gaan Maandag voort met die Ikeys wat die Ixias om 17:00 pak, gevolg deur die UWK en Tuks wat mekaar om 19:00 die stryd aansê.

Dinsdag kom UJ en die Shimlas om 15:00 teen mekaar te staan, gevolg deur Wits en die Madibaz om 17:00 en die Maties en die NWU-Arende om 19:00.

Al die wedstryde sal regstreeks op SuperSport (DStv-kanaal 211) uitgesaai word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.