Varsitybeker: Tuks klop Maties in klipharde stryd

’n Jubelende Tukkiespan vier hul oorwinning in die Varsitybeker-eindstryd (Foto: GB Jordaan)

Dit was hard, genadeloos en daar is bloed gesweet, maar Tuks het genoeg gedoen om die Varsitybeker vir die volgende jaar staanplek in Pretoria te gee.

Dít nadat hulle Maties Maandagaand in die eindstryd van dié reeks in die LC de Villiers-stadion met 28-21 geklop het.

Maties was eerste op die telbord toe die slot Janco Venter ʼn sewepuntdrie gaan druk het. Maar die Pretorianers se kaptein, Chris Massyn, het kort daarna geantwoord met ’n drie nadat die tuisspan die besoekers se skrum in trurat gesit het.

Met die omdraaislag was daar steeds min tussen die spanne te kies toe Maties naelskraap met 15-13 voor was.

Tukkies het in die eerste helfte die fasette voorlangs oorheers, maar dikwels was dit ’n laaste aangee wat verlore gegaan het of desperate verdediging deur die besoekers wat die Pretorianers verhoed het om te gaan druk.

Manie Libbok en Sibahle Maxwane van Tuks op die aanval. (Foto GB Jordaan

Kort na rustyd het Tuks se buitesenter, Divan Rossouw, ’n steekskoppie van sy losskakel Tinus de Beer vanuit sy eie halfgebied opgevolg, die bal voor die Matie-verdedigers weggegryp en onder die pale gaan druk vir ʼn drie wat sewe punte werd was.

Rossouw se drie het die tuisspan laat glo dat hulle die wedstryd kan wen. Daarby het die Stellenbossers in die tweede helfte tam voorgekom, terwyl hulle kragte ook voorlangs getap is, waar hulle in skrums harde bene gekou het.

Vir die tuisspan het Massyn en die agsteman Clyde Davids uitgeblink en telkens oor die voordeellyn gekom.

Die Pretorianers se wedstrydplan was beter, met die losskakel Tinus de Beer wat soos ’n generaal die toutjies agterlangs getrek het, terwyl die senter Joshua Stander dikwels ook in bewegings op losskakel opgeduik het.

In die doodsnikke van die wedstryd het Maties verwoed probeer om te gaan druk, maar die Pretorianers se verdediging het gehou.

Dit is Tukkies se eerste titel sedert 2013.

Puntemakers –

Tuks (13) 28: Drieë: Chris Massyn, Divan Rossouw (*). Doelskoppe: Tinus de Beer 2. Strafdoele: De Beer 4.
Maties (15) 21: Drie: Janco Venter (*). Doelskop: Christopher Smith. Strafdoele: Smith 3, Tiaan Swanepoel.
(*) Sewepuntdrie.

Vishuis behou Varsitykoshuis-titel

Huis Abraham Fischer (Vishuis) van die Universiteit van die Vrystaat is die 2017-Varsitykoshuis-kampioen nadat hulle Patria van die NWU-Pukke Maandagmiddag in die eindstryd in Pretoria geklop het.

Dit is Vishuis se vyfde titel in hierdie kompetisie.

Die wenspan het drie drieë gedruk om die Potchefstromers se droom om dié titel te verower weer ter verydel, soos verlede jaar toe hulle ook Patria se tjank in die eindstryd afgetrap het. Patria het twee keer gedruk.

Vishuis hou die Varsitykoshuis-beker die vyfde keer omhoog. (Foto: Christiaan Kotze/Saspa)

Vishuis se taktiek was duidelik: maak voorlangs sag en slaan dan agterlangs.

Met ’n speler soos veral die flank Nelius van Heerden, wat male sonder tal losballe opgepik het en dan oploop gegaan het om sy span oor die voordeellyn te kry, het dit die Noordwesters se verdediging onder druk geplaas.

Patria verdien ’n pluimpie vir hulle verdediging, maar selfs die beste verdediging kan ook net soveel aanvalle afweer voordat die damwal bars.

En hoewel Vishuis nie met die wedstryd weggehardloop het nie, het hulle selde in die wedstryd onder druk gelyk, iets wat weerspieël word deur die vele male wat hulle die kantlyn met strafskoppe opgesoek het, met ’n poging pale toe wat binne trefafstand was.

Dit is die vyfde keer in die tien jaar sedert 2008 toe die kompetisie die eerste keer aangebied is, wat Vishuis dié trofee huis toe neem.

Puntemakers –

Vishuis (13) 25: Drieë: Charl du Toit, AJ Brits, Wian van der Watt. Doelskoppe: Dale de Wet 2. Strafdoele: De Wet 2.
Patria (5) 10: Drieë: Wilbri Gunter, Garann Kriek.

*Punte in die Varsitykoshuis-reeks is: Drie – 5 punte, doelskop – 3 punte, strafdoel – 2 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.