Shimlas het die tweede opeenvolgende week ’n groot loesing op die lyf geloop, Wits het nog ’n oorwinning behaal, die UJ het skitterrugby opgedis en die Pukke het amper weer ’n pakslae op die lyf geloop.
Wits skakel oor na volgende rat
Wits het hulle derde oorwinning van vanjaar se Varsitybeker-reeks behaal toe hulle die Madibaz in Johannesburg met 30-20 in ʼn taai kragmeting geklop het. Die Johannesburgers het vier drieë gedruk en hulle kans op ’n plek in die uitspeelronde lewendig gehou.
Maar as Wits na hulle sege verlede week teen die verdedigende kampioen, die Pukke, gedink het hulle hoef bloot op te daag om die oorwinning te verseker, het hulle hul misgis.
Die Baaiers het hulle alles gegee en die Witsies voorlangs aangevat. Daarby is die gevaarlike agterspelers van die Johannesburgers soos die senter Wandisile Simelane en die losskakel Gianni Lombard met arendsoë dopgehou en hulle beweging beperk.
Praat van Lombard, dat hy talentvol is, is nie te betwyfel nie, maar hy het baie beter op heelagter vertoon toe Warren Gilbert hom op losskakel vervang het. Met Gilbert as die generaal is die agterlyn ook baie beter bestuur.
Die Witsies het verskeie hanteerfoute gemaak, terwyl die ondersteunende spel ook nie altyd na wense was nie. Maar dit is dinge wat op die oefenveld uitgestryk kan word.
Puntemakers –
Wits (17) 30: Drieë: Constant Beckerling, Rhyno Herbst, Jethro de Lange, CJ Greeff. Doelskoppe: Gianni Lombard, Warren Gilbert. Strafdoel: Gilbert.
Madibaz (17) 20: Drieë: Jixie Molapo (*), Brandon Brown. Doelskop: Thomas Kean. Strafdoele: Kean 2.
(*) Sewepuntdrie.
UJ laat hulle nie deur wind ontsenu
Ondanks die verwagte winderige omstandighede Maandag op die Green Mile in Kaapstad, het die UJ hulle kanse op ’n plek in die halfeindronde van die Varsitybekerreeks lewendig gehou deur die Ikeys met 40-12 te klop en ’n bonuspunt vir meer as vier drieë ingesamel.
Die Johannesburgers, wat in die eerste helfte teen die wind gespeel het, het met kort aangeë die bal die werk laat doen. Dit het die Ikeys, wat in die helfte nie veel van die bal gesien het nie, blote toeskouers gemaak.
Dat die besoekers die winderige omstandighede beter onder die knie gekry en tot hulle voordeel aangewend het, spreek duidelik uit hulle skrumskakel, Johan Esterhuizen, wat in die eerste helfte vinnige tikskoppies geneem het elke keer wat ’n strafskop aan sy span toegeken is eerder as om teen die wind kantlyn toe te skop. Hy is hierdeur ook met ’n drie beloon.
Die gevaarlike buitesenter van die UJ, Aphiwe Dyanti, het vir die soeveelste keer hierdie seisoen verdedigers na lug laat gryp. Hier is ’n opwindende speler wat nog groot rugby gaan speel, dis nie altemit nie.
Die Johannesburgers se flank Wian Conradie het ook uitgestaan en die Kapenaars veral in die losgemale grys hare gegee met nie net balbesit wat hy omgekeer het nie, maar ook die meters veld wat hy met die bal in die hand gewen het.
Met dié neerlaag is die Ikeys se geringe kans wat hulle vooraf gehad het om die uitspeelrondes te haal, daarmee heen.
Puntemakers –
Ikeys (0) 12: Drieë: Gerard Pieterse (*), Sebastian Roodt.
UJ (16) 40: Drieë: Johan Esterhuizen, Ewan Adams (*), Johannes Snyman, Jo-Hanco de Villiers, Godfrey Ramaboea (*). Doelskoppe: Divan Nel 4. Strafdoel: Nel
(*) Sewepuntdrie.
Tuks verrinneweer die Shimlas
Vir die tweede week na mekaar is die Shimlas getrap. Hierdie week was dit die beurt van Tuks, nadat ook die Maties verlede week maklik met die Vrystaters afgereken het.
Die Pretorianers het 65-19 gewen en in die proses nege drieë gedruk.
Die besoekers het in die vierde minuut hulle eerste drie gedruk, toe die vleuel Sibahle Maxwane oorgeduik het. Daarna het die drieë met reëlmaat gevolg, met die Tukkies wat met rustyd reeds 37-0 voor was.
In die tweede helfte het die Bloemfonteiners self drie keer die doellyn oorgesteek, maar die agterstand was net te groot om ’n volwaardige terugvegpoging van stapel te stuur.
Na die neerlaag loop die Shimlas die gevaar om vir die tweede jaar agtereenvolgens nie die uitspeelronde te haal nie. Eerskomende Maandag speel hulle tuis teen die Madibaz, hul laaste groepwedstryd.
Puntemakers –
Shimlas (0) 19: Drieë: Vuyani Maqina, Stephan Janse van Rensburg, Lihleli Xoli. Doelskoppe: Marco Mason 2.
Tuks (37) 65: Drieë: Sibahle Maxwane 2 (**), Dewald Naude, Andrew Beerwinkel (*), Chris Massyn (*), Clyde Davids, Dewald Naude (*) Divan Rossouw, Jan-Henning Campher. Doelskoppe: Tinus de Beer 5.
(*) Sewepuntdrie.
Ixias verras amper die Pukke
Ook in Bloemfontein het die Ixias, wat verlede week ’n 100-tal teen Tuks afgestaan het, so byna die verdedigende kampioen, die Pukke, geklop.
Die Potchefstromers, wat vroeg gemaklik voor was, moes ’n verwoede aanslag van die tuisspan in die tweede helfte afweer om met 43-38 te wen . . . nadat hulle teen rustyd gemaklik met 31-10 voor was
Met die omdraaislag het die Bloemfonteiners egter ander planne gehad en nog vier keer agter die Pukke se doellyn gaan kuier.
Die Noordwesters het egter aan hulle voorsprong vasgeklou en hul kanse op ’n plek in die uitspeelronde is steeds op koers.
Hoewel die Ixias nie gewen het nie, kan hulle trots voel op die manier waarop hulle opgestaan het na verlede week se vernedering.
Puntemakers –
Ixias (10) 38: Drieë: Ruben Heymans, Kabous van Schalkwyk, Ruan Wasserman, Van Schalkwyk (*) Kian Skippers (*). Doelskoppe: Martin Jacobs 3. Strafdoele: Jacobs.
Pukke (31) 43: Drieë: Elden Schoeman, Wilmar Arnoldi, Jimmy Mpailane, Jeandré Rudolph, Boela Venter, Tapiwe Mafura, Dean Stokes. Doelskoppe: Julian Delicado 4.
(*) Sewepuntdrie.