Varsitybeker: Vier rillers op een aand

UP-Tuks se voorspelers het in die tweede helfte die knoop vir hulle span deurgehak. (Foto: GB Jordaan).

ʼn Riller in elk van die vier wedstryde – en daar is steeds ʼn hele klompie permutasies wat die finale plekke in die uitspeel- en relegasiewedstryde in vanjaar se Varsitybekerreeks sal bepaal.

Die “hoofwedstryd” Maandag was die stryd tussen Wits wat tuis teen die NWU-Pukke gespeel het in die stryd om tweede op die Varsitybekerreeks se punteleer te eindig.

ʼn Strafdrie en binne twee minute ook nog ʼn verdoelde sewepuntdrie deur die NWU-Pukke het Wits op hulle tuisveld geskud. Die tuisspan moes daarna van 0-16 af net inhaalrugby speel en het dit goed gedoen om die agterstand deurgaans nie te laat vergroot nie.

Wits was met rustyd 14-26 agter en het die gaping ná 60 minute na 24-35 vernou.

En toe dit ná 67 minute 31-35 word, was Wits skielik weer binne bereik van die (straks tydelike) tweede plek op die punteleer.

Die ironie is dat hulle aanstaande naweek ʼn loslootjie het, en dat die wenner tussen UJ en die Ikeys by hulle sal verbyskuif.

Beter afronding op die aanval het by Wits kortgekom teen ʼn span wat rotsvas op die verdediging was.

Dit was, soos verwag is, ʼn taai wedstryd propvol goeie rugby met die twee spanne wat albei die bal heelwat rondgegooi het. Hulle het saam tien drieë (vyf elk, insluitende die Pukke se strafdrie) opgelewer.

♦  UP-Tuks, met een oorwinning in sy ses wedstryde toe die manne gisteraand opdraf, was ná 20 minute met 0-20 teen UJ agter. Die Tukkies was die kluts heeltemal kwyt. Hulle kon nie vang nie, kon nie keer nie en kon nie uitgee nie.

ʼn Loesing der loesings het gewink, maar toe het hulle stelselmatig in die harde maar, aan albei kante swakkerige wedstryd vol foute en swak dissipline, hulle voete begin vind. Rustyd was hulle steeds 7-20 agter en dit het gegroei tot 7-27.

Toe het die Tukkies hul beste rugby van die aand gespeel en die telling na 23-27 gevoer.

Tukkies se voorspelers het in daardie laaste halfuur of so die oorhand begin kry en ʼn druk-doelskop in die 80ste minuut deur Thinus de Beer het die Tukkies se inhaalrugby met ʼn gelykop uitslag van 30-elk laat afsluit.

♦  Die Ixias het in hulle laaste paar wedstryde met rukke goeie en mooi rugby gespeel, en hulle het Maandagaand tuis baie amper vir die Ikeys geklop.

Die Kaapse studente het ná ʼn halfuur reeds met  23-0 voorgeloop. Hulle kon egter in die laaste 32 minute geen punte aanteken nie, maar het darem vasgebyt om met 30-23 te wen.

Daar was ʼn paar wilde aangeë en onnodige skoppies op die aanval wat die Ixias moontlik drieë en die wedstryd gekos het. Maar sou hulle aanstaande jaar nog in  die reeks speel met die outomatiese relegasie vir die onderste span en ʼn promosie-relegasiewedstryd vir die voorlaaste span, het Tiaan Liebenberg heelwat om op te bou.

Die beste speler op die veld was die tuisspan se senter Ruan Wasserman, wat benewens twee drieë ook die spil van die Ixias se aanvalle was.

♦  Ai, sal die Madibaz seker sug nadat hulle ná die 23ste minuut nooit agter was teen die Shimlas nie. Dit is nou tot die 76ste minuut, toe Ayabonga Oliphant ʼn verdoelde drie gaan druk het om die Baaise span met 28-22 onder te sit.

Wie sou nou kon glo dat die Madibaz, heel onderaan die punteleer, tussen die 23ste en die 77ste minuut nooit agter sou wees teen die Shimlas nie totdat ʼn baie laat verdoelde drie hulle gekelder het?

Die Shimlas is vir alle praktiese oorwegings uit die uitspeelwedloop, terwyl die Madibaz, in die laaste plek op die punteleer, tot relegasie verdoem is tensy hulle aanstaande week vir Tuks op dié se tuisveld kan klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.