Varsitybeker: Voorspellings is dwaas in dié reeks

As daar nou ʼn kompetisie is waar dit nie slim is om voorspellings te waag nie, is dit die Varsitybekerreeks.

Te oordeel na net vanjaar se aantal verrassings is dit onmoontlik om met sekerheid te sê wie vir wie gaan klop en om te probeer voorspel wie in die uitspeelrondes sal wees.

Dit is maar soos in die voorafgaande jare …

Wat wel waar is, is dat die verdedigende kampioen UP-Tuks, ná drie wedstryde steeds sonder ʼn sege, Maandagaand by die Ikeys eenvoudig móét wen. Verloor hulle, moet hulle feitlik – maar nie heeltemal nie – vir lief neem die uitspeelwedstryde is vir hulle buite bereik.

Die Shimlas, Maties en ook Wits het hulle tot dusver geklop. In al drie wedstryde was die Pretorianers mededingend en kon dinge net sowel anders verloop het.

Maar dit hét nie!

♦  Maandagaand kom die twee voorste spanne op die punteleer, die Maties en Wits, in die Witsstadion teen mekaar te staan. Wen die Maties, is hulle koppe so te sê deur na die uitspeelrondes.

Wen Wits, kan hulle moontlik maar onwaarskynlik by die Stellenbossers verbyskuif. Dinge soos bonuspunte en punteverskil het hul eie manier.

Kan Wits wen? Op hulle tuisveld is Wits ʼn moeilike teenstander, maar die Maties het miskien net meer spelskeppers en beslis meer selfvertroue ná hulle vier goeie oorwinnings.

♦  Die Shimlas, net ʼn enkele ligapunt agter Wits en vyf agter die Maties teen wie hulle ordentlik slae gekry het, speel tuis teen UJ, wat ook deur die Maties verniel is. UJ het maklik teen die Ixias gewen wat nie veel sê nie en het verlede week net-net teen die NWU-Puk verloor.

Maar dit was in Potchefstroom.

UJ sal vir 80 minute soos verlede week in die tweede helfte teen die Pukke moet speel om ʼn kans te staan. Toe het hulle geen punte afgestaan nie en self twee keer gaan druk.

En die Shimlas, lekker en mooi om na te kyk as hulle aan die hardloop gaan, sal moet seker maak hulle vat die besoekers voor vas.

♦  Die Madibaz, soos die Tukkies steeds sonder ʼn oorwinning, speel in die Baai teen die Pukke.

Die Potchefstromers sukkel om behoorlik op dreef te kom en het benewens ʼn wegholsege van 70-7 teen die Ixias, net-net teen die Ikeys (in Kaapstad) verloor en net-net op hulle tuisveld teen UJ gewen. In albei gevalle was die eindtelling 18-15.

Die Madibaz is ongelukkig om sonder ʼn oorwinning te wees en sal die Pukke opdraand gee.

♦  Maar watter van die vier spanne Maandagaand gaan wen, is ʼn kwessie van wag en sien.

Die bepalings –

16:45 – Wits teen Maties (TV)
18:30 – Ikeys teen Tuks
18:30 – Madibaz teen NWU
19:00 – Shimlas teen UJ (TV)
Loslootjie – Ixias

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.