Varsitybeker: Vorige wenners die gunstelinge

Twee spanne wat al bekersukses geproe het, teen twee Johannesburgse spanne wat hoop dit is hulle deurbreekjaar.

Dít is naastenby ʼn opsomming van Maandagaand se twee halfeindstryde in vanjaar se Varsitybekerreeks wanneer die Maties teen Wits en die NWU-Pukke teen UJ te staan kom.

Die Maties was vanjaar onoorwonne met twee gelykop uitslae wat hulle rekord ietwat “ontsier”, en die Pukke het een keer verloor en teen die Maties gelykop gespeel.

Verlede jaar se kampioenspan UP-Tuks, wat soos die Maties met die meeste (drie) titels spog, het vanjaar lelik uitgesak.

Die Maties het die eerste drie jaar van die reeks oorheers, hul enigste drie titels in daardie jare tussen 2008-’10 gewen en sedertdien in nog vier eindstryde gespeel wat hulle verloor het.

In 2016 het die Pukke hul enigste titel gewen toe hulle die Maties in ʼn riller met 7-6 geklop het nadat hulle die laaste 10, 12 minute in ʼn reeks vyfmeterskrums op die Stellenbossers se doellyn deurgebring het.

♦  Die Maties is die gunstelinge om teen die Witsies te wen vir ʼn agtste probeerslag in die eindstryd. Wits se spelers is groentjies in dié stadium van die kompetisie, maar het in hulle twee afrigters, die broers Hugo (hoofafrigter) en Ettienne van As, gesoute  Varsitybekerafrigters wat jare by UJ op hierdie vlak afgerig het.

Wits het boonop, met ʼn dramatiese sewepuntdrie met die heel laaste beweging op hulle tuisveld die Maties in die ligawedstryde tot ʼn gelykop uitslag gehou.

Die Maties het die voorspelers, die snellers agterlangs en die tuisveldvoordeel. Wits se kanniedoodrugby kan dalk, net dalk verras – net soos die Pukke in 2016 nadat hulle die hele wedstryd agter was teen die Maties en grootliks in eie gebied moes speel.

♦  Op Potchefstroom kan die Pukke ook nie oorgerus opdraf nie, al is dit voor hul eie skare (wat straks met die vakansiedae uitgedun kan wees).

Hulle speel, soos UJ en ook Wits, hulle klubrugby in die Goue Leeus se Pirates Grootuitdaagreeks, en het verlede jaar teen UJ die titel gewen.

Toegegee, dit is nie dieselfde spelers wat in die Piratesreeks speel nie omdat ouer manne daar, anders as in die Varsitybekerreeks, ingespan kan word.

UJ het vanjaar tussen stotter en skitter hulle plek in die reeks oopgespeel, en die Pukke durf nie oorgerus wees nie.

Herhaal hulle egter dieselfde peil wat hulle verlede Maandag teen die Maties laat gelykop speel het, is hulle koppe deur na die eindstryd.

Afskoptye:

16:30 – Pukke vs UJ
19:00 – Maties vs Wits

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.