Varsitybeker-wedstryde met ’n week uitgestel

Die derde bioborrel van die Varsitybeker-rugbyreeks is met ’n week uitgestel.

Die reeks sal op 17 Mei hervat en die eindstryd word op 31 Mei gespeel. Die Varsitybeker se raad het die besluit oor die naweek geneem, na samesprekings met die betrokke universiteite, nadat drie van Tuks se spelers Covid-19-positief getoets het voor hul wedstryd teen die Ikeys wat Vrydag sou plaasvind.

Albei spanne het twee ligapunte gekry nadat die wedstryd gelykop verklaar is. Vrydag se ander wedstryde het egter voortgegaan en dit was die Ixias se oorwinning oor die Maties wat almal aan die praat gehad het. Die Bloemfonteiners het die Stellenbossers met 23 – 18 geklop.

Die Shimlas het die Madibaz met 24 – 20 geklop, terwyl die NWU met 22 – 20 oor Wits geseëvier het. Die UWK het UJ met 31 – 5 afgeransel.

“Dit was altyd ons voorneme om die toernooi einde Mei af te handel weens universiteitseksamens in Junie,” het Xhanti-Lomzi Nesi, direkteur van die Varsitybeker-reeks, verduidelik. “As sodanig het ons ’n sogenaamde bufferweek ingebou ingeval iets sou gebeur en ons die datums moes skuif.”

Volgens Nesi sal die week lange uitstel kans gee vir meer Covid-19-toetse en beseerde spelers die geleentheid gee om voldoende te herstel.

Wanneer die wedstryde op 17 Mei hervat, sal die Maties teen die Madibaz te staan kom, UJ teen Wits, die Ixias teen die NWU, die Ikeys teen die UWK en die Shimlas teen Tuks.

Daar sal dan weer op 20, 23 en 28 Mei gespeel word voor die eindstryd op 31 Mei.

Só lyk die punteleer:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.