Varsitybeker: Wegholtellings in die halfeindstryde

Die twee halfeindstryde van die elfde Varsitybekerreeks het Maandagaand albei wegholtellings opgelewer.

In die Danie Cravenstadion het die Maties die Witsskrum geheel en al laat disintegreer om uiteindelik met 65-18 te wen; en in Potchefstroom het die NWU-Pukke ʼn agterstand van 0-18 na minder as ses minute in ʼn sege van 60-31 teen UJ omgekeer.

Die Maties sal dus aanstaande Maandagaand die eindstryd op Coetzenburg teen die Pukke aanbied.

Maties teen Wits

Na net 12 minute was die Maties reeds met 21-0 voor. Wits is ʼn span wat as eenheid en met groot gemeenskaplike durf suksesse behaal het, maar dié wegspring was vir hulle net een te veel.

En dit het nie daarby gebly nie. Hulle was in die geheel eintlik nie teen die tuisspan, veral voorlangs, opgewasse nie nadat hulle ʼn paar weke gelede in Johannesburg gelykop gespeel het.

Wits se skrum is eenvoudig oordonder en daar het in die eerste helfte meermale as nie strafskoppe ná die skrums gevolg. Ook by die afbreekpunte het Maties vir Wits, wat te gereeld een-een daar aangekom het, dikwels sommer net van die bal gestoot en omkeerbesit gewen.

Dit het die Maties teen ʼn span wat reeds platgeslaan was, die kans gegee om hul make te maak en hulle was teen rustyd reeds op ʼn amperse drafstap al met 40-9 voor.

Wits se nege punte het ná ʼn verdoelde langafstand-drie deur Daniel Kapepula gevolg, en hulle was net voor rustyd ook byna oor die doellyn. In die tweede helfte het Tyrone Green, verreweg die beste Witsie op die veld, uit sy eie gebied ʼn kortskoppie gelos wat op David Cary se verdoelde sewepunter uitgeloop het. En dit was die Blouspan se 18 punte…

Die hardlooprugby wat die Maties gespeel het en hulle vermoë om spelers in gapings te plaas of om die man-oor te bewerkstellig, het die statistiek ná die eensydige eerste helfte ironies heeltemal skeefgetrek. Glo dit maar, Wits het minder keer duikslae moes uitvoer as die Maties wat dikwels onaangeraak deur die gapings en om teenstanders is.

Wits was in die tweede helfte ʼn raps beter, maar die oormag was te groot, die verdediging te goed vir hulle oneffektiewe aanvalle en nadat Wits teen die strategiese breek slegs een verdere drie na ses voor rustyd afgestaan het, kon hulle dit nie volhou nie.

Die Stellenbossers het nog drie keer, twee keer in die laaste vyf minute, gaan druk en het tien drieë teen net twee van Wits gedruk.

Puntemakers –
Maties (40) 65:
Drieë: Neethling Fouché, Johan van Niekerk, Chris Smit, Wilmar Arnoldi, Janco Venter (2), Chris Smith, Duncan Saal (2, een ʼn 7-puntdrie), Munier Hartzenberg. Doelskoppe: Chris Smith (5) Strafdoel: Smith.
Wits (9) 18: Drieë: Daniel Kapepula (7-puntdrie), David Dary (7-puntdrie). Doelskoppe: Christian Humphries (2).

Pukke teen UJ

Die voorspelers van die Pukke, hulle beter dissipline en veral hulle terugvegpoging nadat hulle vroeg in die wedstryd geskok is, het hulle gehelp om op hulle tuisveld met 60-31 teen UJ te wen.

Die Pukke het agt drieë teen drie gedruk, maar die verloorspan is glad nie so oordonder as Wits op Stellenbosch nie.

Die Pukke was ná minder as ses minute met 0-18 agter ná twee sewepuntdrieë deur UJ op ʼn nat veld waar die reën voor die wedstryd hard geval het.

Die Johannesburgse studente moes egter tot in die 62ste minuut tydens hulle kragspel wag voordat hulle weer agter die Pukke se doellyn ʼn draai gemaak het. Die rustydtelling was 30-24 in die Pukke se guns.

Ná die vroeë terugslae het die Pukke, met hulle pak en veral die dryfwerk van lynstane wat een te veel vir UJ was, die telling na 53-31 laat aangroei.

Dit het twee opportunistiese drieë ingesluit toe UJ ondanks die nat bal diep by ʼn lynstaan ingegooi het. Die bal is egter heeltemal oorgegooi en AK Nela het dit opgepik en onder die pale gaan plant.

Ná 62 minute het Dean Stokes van die tuisspan met sy vaart en ʼn lang lopie gaan druk ná ʼn onderskepping toe UJ gevaarlik aangeval het, en het die Pukke nóg sewe pasella-punte gekry.

Hoewel hulle geen punte tydens hulle kragspel kon aanteken nie en UJ dit met volgehoue aanvalle op hulle doellyn amper reggekry het, het die Pukke se verdediging en voorsprong van 53-31 gehou.

Met minder as drie minute se speeltyd oor het die tuisspan dit met ʼn sterk vyfmeter-skrum ingevryf toe die skrumskakel Nkosana Mbatha die agtste drie gedruk het.

Noemenswaardig is die goeie hanteerwerk van albei spanne op die nat veld en met ʼn nat bal wat gereeld met die agterlyn langs gestuur is; en die skopwerk van die twee losskakels, Schalk Hugo (agt uit agt doelskoppe vir die Pukke) en Kobus Engelbrecht wat met al vyf sy pogings suksesvol was.

Hugo, wat ook ʼn sewepuntdrie gedruk het, was die speler van die wedstryd.

Puntemakers –
Pukke (30) 60:
Drieë: Chucky van der Westhuizen 2, Tapiwa Mafura, Schalk Hugo (7-puntdrie), Chriswill September, AK Nela, Dean Stokes (7-puntdrie), Nkosana Mathaba, (5-punt-drie). Doelskoppe: Hugo (8).
UJ (24) 31: Drieë: Ronald Brown (7-puntdrie), Odwa Nkunjana (7-puntdrie), Jan-Louis la Grange. Doelskoppe: Kobus Engelbrecht (3). Strafdoele: Engelbrecht (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.