Varsitybeker: Wits bederf Maties se vleklose rekord ná drie-drama

Dit sou verkeerd wees om te sê die onoorwonne Maties stoomroller voort, want Wits het Maandagaand op hulle tuisveld die Stellenbossers se vleklose rekord gaan staan en bederf.

Dit was teen die verwagting in en het ná ʼn hele klompie drama ná die eindfluitjie gevolg toe die Maties se aanvanklike sege deur die beamptes in ʼn gelykopuitslag verander is.

Die eindtelling was 30-elk met vier drieë elk, en al bly die Maties ná vyf wedstryde onoorwonne kon hulle nie die gaping tussen hulle en die res op die punteleer verder vergroot nie.

Wits was rustyd met 14-17 agter, en moes met ʼn minuut se speeltyd oor en die telling op 21-30 ʼn sewepuntdrie gaan druk en verdoel om gelykop te speel.

Hulle het dit reggekry toe hulle uitblinker-heelagter Tyrone Green onder die pale gaan druk het en die drie verdoel is, maar die drie is aanvanklik as ʼn vyfpuntdrie aangeteken en Wits het dus met 28-30 verloor.

Maar: Die drie het gevolg nadat Wits die bal afgeskop het, wat dus uit eie gebied op of agter die middelkolletjie was. Die Maties het aangeslaan, Wits het besit verkry en is deur die Maties tot in hul eie gebied teruggeduik en -gedryf.

Die Stellenbossers het egter nooit besit van die bal gehad nie, en volgens die Punt van Oorsprong-reël het die beweging in Wits se gebied met die afskop begin. (En ook het die beweging self wat tot die drie gelei het, uit eie gebied gekom.)

Die drie was dus nege punte werd en die eindtelling is na 30-elk verander.

♦  Dit is slegs Wits se tweede seisoen ná hul terugkeer tot die reeks nadat hulle in 2013 en ’14 nie ʼn enkele wedstryd uit 14 kon wen nie en net drie verloorbonuspunte verdien het. Dit was hulle eerste deelname aan die reeks nadat hulle in die Varsitybeker se eerste vyf jaar nie tussen die uitsoek-agt was nie.

Ná 2014 is hulle na die Varsityskildreeks afgeskuif, en het eers weer verlede jaar in die uitsoekreeks gespeel.

Die voormalige UJ-afrigters, Hugo van As en sy broer Etienne, het Wits dadelik in ʼn mededingende eenheid saamgesnoer en Wits het in 2017 vier van hulle agt wedstryde gewen. Hulle het verlede jaar se uitspeelreeks net-net misgeloop.

♦  In nóg ʼn verrassing, nee, eintlik ʼn skok, het UJ met 49-12 teen die Shimlas in Bloemfontein gewen. Hulle het die tuisspan weinig goeie besit gegun, hul eie kanse gebruik en die Vrystaters stukkend gehardloop.

Dit is moeilik om hierdie pragvertoning te versoen met ʼn span wat tot dusver nog net een keer in drie probeerslae kon wen. Hulle het dit boonop na twee kaarte, rooi in die eerste helfte en beel in die tweede, vermag.

UJ se vyf sewepuntdrieë waarvan vier verdoel is, en twee strafdoele, het aan hulle 49 punte besorg teen die twee drieë  van die tuisspan, vir wie daar nou heelwat selfondersoek voorlê.

As die ander spanne mekaar opdreun en die regte uitslae in hierdie wedstryde in UJ se guns werk, kan UJ op hierdie vertoning geoordeel moeilikheid in die uitspeelrondes maak.

Maar daar lê nog vir hulle vier wedstryde voor …

♦  Vir UP-Tuks was daar weer hartseer. Hulle was ná 55 minute nog met 13-7 teen die Ikeys in Kaapstad, maar hierdie keer het die Kaapstadse studente teen die einde vlamgevat en drie keer in die laaste kwartier gaan druk.

Tuks het voorlangs oorheers en dit het gelyk of hulle die wedstryd in die sakkie het. Maar daar haper iets by die span. Net soos in hulle eerste wedstryd teen die Shimlas kon Tuks weer nie die uitklophou plant nie.

Die Ikeys het feitlik van hulle eie doellyn gaan druk toe Tukkies teen die einde kwaai aangeval het maar ʼn hanteerfout deur die tuisspan uitgebuit is.

Die eindtelling was 23-13 nadat Tuks ná ʼn halfuur nog met 13-0 voor was. Hulle is dus ná vier wedstryde nog sonder ʼn oorwinning en steeds laaste op die punteleer..

♦  Die NWU-Pukke was heeltemal te goed vir die Madibaz op hulle tuisveld en het met vyf drieë teen een met 37-5 gewen. Die tuisspan was met rustyd net met 5-14 agter, maar is in die tweede helfte deur die Pukke se voorspelers stukkend geskrum en -gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Wim, ek lees nou toevallig weer jou berig van laasweek waarin jy gesê het dat dit onmoontlik is om te voorspel in vanjaar se Varsity beker. En jy was 100% reg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.