Varsitybeker: Wits sien kans vir verdedigende kampioen

UP-Tuks en Wits was oor die jare in ʼn paar Intervarsity-rillers betrokke wat later weens politiek doodgeloop het en sedertdien slegs hier en daar deur ʼn paar vriendskaplike wedstryde vervang is.

Maandagaand kry die twee ou vyande weer met mekaar in die tweede ronde van die Varsitybekerreeks te doen.

Die Witsies glo ná hulle verrassend goeie vertonings in hulle eerste Varsitybekerreeks verlede jaar dat hulle reg is vir die kampioenspan, veral nadat hulle boonop verlede week die Ikeys in Kaapstad geklop het.

Nee, hulle is nie grootmond nie, net vol vertroue en vasberade …

En die Tukkies het ná verlede week se skok teen die Shimlas, toe hulle deurgaans moes inhaalrugby speel en nie suksesvol was nie, skielik ʼn wedstryd wat hulle móét wen – vir die herstel van hulle selfvertroue en natuurlik ook die punteleer.

♦  Die Ikeys, wat verlede week kort voor die einde moes toesien hoe Wits hulle verbysteek en klop, speel Maandagaand in die Baai teen die Madibaz wat toe ʼn loslootjie gehad het.

ʼn Wegsege is nodig om die Kaapse studente weer op koers te kry – maar dit is nooit maklik by die Baaienaars nie, al weet die Ikeys nou dat slaplê teen die einde hulle duur sal kos.

♦  Die Maties, wat verlede week teen UJ vinnig uit die blokke was, kry dié keer op hulle tuisveld met die Shimlas te doen.

Laasgenoemde loop met reg breëbors ná hulle oorwinning oor die verdedigende kampioenspan, die Tukkies  – en dit boonop in  Pretoria.

Die Vrystaters wéét wat op Coetzenburg op hulle wag, en die wedstryd sal ʼn goeie aanduiding wees van die relatiewe krag van twee van verlede jaar se halfeindspanne met die Maties wat na die eindstryd deurgedring het.

♦  En dan is daar die Ixias. Hulle breek eenvoudig steeds nie op hierdie vlak deur nie. Hoewel daar met dinge soos die sewepuntdrie en die kragspelreël moontlik meer verrassings as gewoonweg mag voorkom, sien ʼn mens nie dat dit hulle sal red wanneer hulle boonop in Johannesburg teen UJ te staan kom nie.

Die Johannesburgse studente is self deur die Maties se wentelling van 31-3 seergemaak, maar dit is darem nie 7-70 soos die Ixias teen die Pukke slae gekry het nie.

Maandagaand se wedstryde (tuisspanne eerste genoem) –

16:45 – Madibaz vs Ikeys (TV SS1 en GDN)
18:30 – Maties vs Shimlas
19:00 – UJ vs Ixias
19:00 – Wits vs UP-Tuks (TV SS1 en GDN)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.